SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Vuurvreters, politici en jeug praat almal saam
Ivor Price gaan Die Burger se Praat Saam-gesprekreeks aanbied.

Van ’n parmantige politikus tot ’n dansende wiskunde-onderwyser en oudjeuggevangene: Die Burger se Praat Saam-diskoersreeks – ’n jaarlikse feesinstelling – spog dié week met 23 topdenkers wat feesgangers gaan uitdaag én ontroer.

Die gesprekkereeks, onder leiding van die skrywer en televisiepersoonlikheid Ivor Price, open Donderdagoggend negeuur met onder andere die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, en ’n matriekleerling van Oudtshoorn, Zoë Davids, op die paneel. Hulle gaan koppe bymekaar sit oor die jeug se vrese en drome vir Suid-Afrika.

Price, wat die gewilde VIA-program Landbouweekliks aanbied, sê dit was vir hom en die KKNK belangrik om ook “nuwe stemme” by die paneelgesprekke te betrek.

“Die resultaat is iets ongeloofliks, want ewe skielik het jy ’n vuurvreter soos Noncedo Madubedube van Equal Education saam met die ANC-politikus Faiez Jacobs in die bokskryt. ’n Onderwyser soos Kurt Minnaar, wat hip-hop-danse in sy hoërskool-wiskundelesse gebruik, is skielik deel van die nasionale diskoers. Ons wou nie net akademici nooi om saam te praat nie, maar ook die doeners; hulle wat die realiteite van hierdie land in die gesig staar.”

Verskeie inwoners van Oudtshoorn kom ook vanjaar hul stemme dikmaak. Dit sluit in ds. André Boezak van die Verenigende Gereformeerde Kerk, wat op Paasvrydag oor die kerk se nuwe verantwoordelikheid teenoor ’n snelveranderende samelewing gaan kom besin. Spoegwolf se hoofsanger, die doktorale student Danie du Toit, en die voormalige jeuggevangene en deesdae jeugpredikant Ivor Swartz is ook op die paneel, saam met dr. Braam Hanekom, die voormalige moderator van die NG Kerk.

Hulle gaan koppe bymekaar sit oor die jeug se vrese en drome vir Suid-Afrika.

Saterdag word aan politiek gewy. Suid-Afrika se “nuwe begin” met pres. Cyril Ramaphosa kom onder die loep, en die groot vraag is of hy ’n erg verdeelde land vorentoe gaan kan trek. Die ondersoekende joernalis Phillip de Wet en prof. Mohammad Karaan van die Universiteit Stellenbosch kom hul sê hieroor sê, sowel as oor die ANC se veelbesproke grondonteieningsplanne.

Die knellende droogte en klimaatsverandering word Sondagoggend saam met twee topkenners bespreek. Dis die klimatoloog Johan van den Berg en prof. Hannes Rautenbach, hoofwetenskaplike by die SA Weerdiens. Hulle waarsku dat die droogte nou verwant is aan baie areas van omgewings-, politieke en ekonomiese kommer.

Verder word die toekoms van Afrikaans op Maandag 2 April bespreek, maar dié keer word daar gevra hoe die taal se ekonomiese koopkrag en invloed gebruik kan word om ander tale en moedertaalonderrig te bevorder. Op dié paneel is dr. Danny Titus van die ATKV, dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting en Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust.

Dinsdag 3 April word aan die vierde nywerheidsrevolusie gewy. Die wêreldekonomie is tans in ’n oorgangsfase, en kenners glo ons staan op die rand van ’n deurbraak, wat die wêreld waarin ons leef en werk fundamenteel gaan verander. Prof. Roelof Botha, ’n ekonoom, kom koppe bymekaar sit met dr. Morné Mostert van die Instituut vir Toekomsnavorsing en Albe Kriel van die Optimum-finansiëledienstegroep.

Die laaste feesdebat, op Woensdag 4 April, word aan onderwysuitdagings gewy. Suid-Afrika het ongetwyfeld een van die wêreld se swakste onderwysstelsels. Kenners glo ’n gebrek aan vernuwende denke eerder as geld weerhou ons daarvan om volpunte vir onderwys te kry.

Meer oor:  Die Burger  |  Ivor Price  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.