Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Orrel se 40ste jaar gevier
ERNA RADEMAN bespeel die drie-manuaal, Fehrle- en Roeleveldt-orrel wat al veertig jaar ind ie NG-kerk Vredefort wel bekend is en uitstekende klank en ’n orrelis se droom is. Foto: Verskaf

DIE NG kerk Vredefort se drie-manuaal- Fehrle-en-Roeleveldt-orrel se 40ste jaar van gebruik in die kerk word op 7 Junie gevier.

Erna Rademan, orrelis van die gemeente, sê dié orrel is wyd bekend en is al deur menige orrelvirtuoos bespeel.

Die orrel se gebruik oor vier dekades word Saterdag (06/06) en Sondag (07/06) gevier.

“Ons het dit goedgedink om vir prof. Albert Troskie, wat 42 jaar gelede (toe die orrel gebou is) as orreladviseur opgetree het, te nooi om hier in ons pragtige kerk gróót klanke te kom maak,” sê Rademan.

Troskie is ’n boorling van die Oos-Kaap en het in Somerset-Oos aan die Gill-kollege gematrikuleer. Hy was ’n dosent aan Unisa en van 1983 tot sy aftrede in 1999 professor in musiek aan die Universiteit van Port Elizabeth en hoof van die musiekdepartement.

Hy is reeds 48 jaar kerkorrelis en koorleier en was in 1980 die stigter van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (Sakov). Hy was 20 jaar lank voorsitter van Sakov en ook redakteur van die nuusbrief en van die jaarblad Vir die Musiekleier. In 2002 het hy erelidmaatskap van Sakov ontvang.

Sy boek Pyporrels in Suid-Afrika is in 1992 deur J.L. van Schaik gepubliseer en in 2010 is sy tweede boek, The Pipe Organ Heritage of South Africa, uitgegee.

As orreladviseur het hy vir talle gemeentes nuwe pyporrels ontwerp, insluitend die orrel van die Vredefort-kerk, en oor die bou daarvan toesig gehou.

Twee van sy groot ontwerpe is die pragtige orrel in die NG kerk Somerstrand (1988) waar hy ook kerkorrelis en koorleier is, en die reuse-orrel van die Veremarksentrum in Port Elizabeth (1999).

In 2000 het hy ’n CD, Grand Organ, uitgegee waarop snitte is waarin hy bogenoemde twee orrels bespeel. Hy het ook ander orrel- en koor-CD’s uitgegee.

Troskie het in die kommissie vir die samestelling van die Liedboek gedien. Hy is landwyd as orrelis en spreker aktief en het twee bundels, Liedboekverwerkings vir Orrel en Koor, Vol. 1 en 2, in 2003 en 2006 gepubliseer.

Saterdag om 15:00 sal Troskie ’n orrelkonsert met ligte orrelwerke, deur trompet, dwarsfluit en ’n solo-sopraan aangevul, lewer. Van die werke op die program is die Pelgrimskoor uit Tannhäuser van Richard Wagner, die Aambeeldkoor uit Il trovatore van Giuseppi Verdi, Kanon in D deur Johann Pachelbel, Marche Solennelle (Seremoniële Mars) van Alphonse Mailly en die Groot mars uit Aïda van Verdi.

Toegang is gratis, maar ’n vrywillige kollekte sal opgeneem word om koste te help dek.

Sondag om 09:30 sal Troskie in die kerkdiens as orrelis optree. Die Deo Gloria-koor onder leiding van Rademan en Marli Kruger sal ook optree.

Die luisterryke geleentheid sal met trompet en dwarsfluit aangevul word.

Ná die diens sal sop en brood bedien word.

“Kom deel gerus in ons vreugde en kuier lekker saam met ons,” nooi Rademan

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.