’n Tasbare opgewondenheid heers by die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die breë Kroonstad-gemeenskap.
Die skool se splinternuwe hokkie-astrobaan, ’n eerste vir die Fezile Dabi-streek, het Kroonstadters aan die gons. Die baan sal op peil wees volgens internasionale vereistes.
William Drinkwater, skoolhoof, het die eerste sooi gespit voordat die terrein amptelik aan die kontrakteur oorhandig is vir die omvangryke projek wat Dinsdag (29/01) begin is.
Dié astrobaan sal ’n sandbasis hê, wat beteken dat die baan nie natgespuit hoef te word nie. Internasionaal beweeg hokkie-beheerliggame weg van bane met ’n waterbasis, om die invloed op die omgewing te beperk.
Die baan is ontwerp om op peil te wees met die Federasie vir Internasionale Hokkie (FIH) se vereistes en sal ’n klassifikasie hê van “National Class 1”. Dit beteken dat sekere nasionale wedstryde hier aangebied kan word.
Die FIH het onlangs besluit dat die voorkeurkleur vir bane blou is. Dié kleur en besluit pas die Blouskool soos ’n handskoen.
’n Besluit van Hokkie Suid-Afrika, wat op Noord-Vrystaat-hokkie se jaarvergadering bevestig is, is dat alle liga-uitspeelwedstryde in die toekoms slegs op astrobane gespeel mag word.
Blouskool sal dus gerat wees en aan vereistes voldoen.
“Die aanbring van dié gerief van wêreldgehalte is nie net ’n hoogtepunt vir Blouskool nie, maar ook vir die gemeenskap van Kroonstad en die hele Noord-Vrystaat sal by die projek baat,” sê Drinkwater.
“Ten spyte van reuse-uitdagings het ons skool in die projek geïnvesteer om hokkie in die omgewing en streek te bevorder.”
Blouskool se eerste seunshokkiespan, onder leiding van Martin Botha as afrigter, spog al vir bykans tien jaar as wenner in sy liga.
Botha, ook ’n Noord-Vrystaat-hokkieafrigter, is verantwoordelik vir die vaardigheidsvlakke van die skool se spanne.
Die spanne sal hul vaardighede op die nuwe astrobaan, asook in die skool se binnehuise sportsentrum, kan opskerp.
Die baan is ideaal vir gebruik in interprovinsiale toernooie, wat voete na Kroonstad sal bring.
Die bouprojek behoort binne die volgende drie maande voltooi te wees, betyds vir die jaar se hokkie-seisoen.