Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Boelies neem toe in skole’

Boeliegedrag in skole is besig om handuit te ruk.

Só sê Johan Roux, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Kroonstad, nadat twee voorvalle van aanranding by die polisie in die dorp aan­gemeld is.

Die name van die leerlinge wat deur die boeliegedrag geraak is, mag nie genoem word nie, omdat hulle jonger as 16 is.

Statistieke oor kinders wat selfdood pleeg, wys dat skoolkinders al hoe meer aan boelies blootgestel word, sê Roux.

“Ons kinders het ondersteuningsnetwerke, maar is so bang vir dit wat boelies aan hulle gaan doen, dat hulle huiwer om ’n klag by die polisie aanhangig te maak,” sê Jenny Roux, Johan se vrou en sekretaris van die GPF.

Jenny het Vrydag (31/08) ’n GPF-veldtog, bekend as die Anti-boelie-uitreik-aksie, by ’n hoërskool in Kroonstad begin.

“Dis basies ’n uitreik na slagoffers van boelies, maar ook om vas te stel waarom ’n medeleerling ’n ander kind boelie,” sê sy.

Die benaming “boelie” het baie betekenisse. Dit kan saamgevat word as iemand wat iemand anders emosioneel afkraak of slegsê, fisiek aanrand of intimideer.

Sommige kinders sien dit as normaal om konflik met geweld op te los en loop dan oor na geweld op die skoolterrein; dit is die eerste reaksie van sulke kinders om die vuis te gebruik, omdat hulle dit in hul huis sien, sê Jenny.

“As ’n kind weier of verskoning soek om skool toe te gaan, moet ouers die gevaartekens waarneem. Maats moet ook na vore kom en boelies uitwys. Dit moet aangemeld word,” sê Johan.

“Moenie dit net sien as praatjies as iemand dreig dat hy of sy ’n ander kwaad gaan aandoen nie. Meld dit dadelik aan by ’n onderwyser, ouer of die polisie,” sê Johan.

’n Slagoffer toon gedragsverandering, byvoorbeeld ’n verlies aan eetlus, sosiale onttrekking, huilerigheid en worsteling met negatiewe emosies.

Drie GPF-bestuurslede, wat Johan en Jenny insluit, is as trauma-ondersteuners gekwalifiseer en die GPF bied berading aan slagoffers van boeliegedrag.

“Dit is egter nie net die slagoffer wat ondersteun word nie. Dit is noodsaaklik om die konflik of dieper liggende rede vir een mens om ’n ander te boelie, te ontlont. Die boelie moet ook terapie kry,” sê Johan.

Ouers se rol mag nie onderskat word nie.

“Party ouers dink dit is ‘cool’ as hul kind op skool ’n ander takel of die ‘groot meneer’ is.

“Pa’s moet let op die manier waarop hulle hul vroue en kinders behandel en met hulle praat.

“Lelike taal en dreigemente plaas gereedskap in die boelie se hand om na die skool te neem,” benadruk Johan.

Johan meen dit is nie ongewoon om ’n onderwyser te sien wat soos ’n boelie optree, ook teenoor kinders, nie.

“Daar is ’n geval by een van die Kroonstadse skole aangemeld rakende onderwysers wat kinders slegsê - dat hulle niks goed kan doen nie.

“Dit is nie reg dat skole boelies laat wegkom deur stil te bly in ’n poging om die skool se reputasie te beskerm nie.

“Dit gebeur op baie plekke, maar bly onaangemeld,” sê Johan.

“Ek het al ’n gr. 1-seun teëgekom wat nie wil skool toe gaan nie. Die kind het gesê dat daar ander kinders is wat hom seermaak.

“My raad aan ouers is om die regte roete te volg en met die skoolhoof te gaan praat. As dit op niks uitloop nie, moet die ouers met die polisie in kontak kom,” sê Johan.

“Dis krimineel aanmeldbaar.”

Om te ontken dat boelies bestaan en aktief is, is naïef, sê Johan.

As ’n kind fisiek aangerand word, moet ’n doktersverslag gekry word en moet ’n saak dadelik by die polisie aanhangig gemaak word.

“Al gaan die saak nie verder nie, moet boelies besef dat hulle die gevolge van hul dade moet dra. As hy of sy ’n grootmens is, is die gevolge soveel groter en tronkstraf kan opgelê word.”

Lelike taal en dreigemente plaas gereedskap in die boelie se hand om na die skool te neem. – Johan Roux

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.