Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Borgtog ontvang

Die Moqhaka-munisipaliteit se bestuurder het eintlik sy middelvinger vir die staat gewys, het landdros Ian Redelinghuys Woensdag (05/06) in Kroonstad gesê.

Redelinghuys het uitspraak in Simon Mqwathi se aansoek om borgtog gelewer.

Hy het ’n string redes gegee waarom Mqwathi nie bewys het dat hy wel borgtog moet kry nie.

Hy het toe wel borgtog op R100 000 vasgestel.

Die aansoek spruit uit klagte van bedrog en korrupsie wat teen Mqwathi en nog twee mense, Tefo Warnic Montsitsi en Busa Molatseli, aanhangig gemaak is.

Molatseli is die munisipale bestuurder van die Dihlabeng-munisipaliteit. Montsitsi is volgens die staat onwettig as diensverskaffer vir veiligheidsdienste in die twee gebiede aangestel.

Mqwathi is eintlik op ’n hoflike wyse vooraf deur die polisie ingelig dat hy hom by die hof moes aanmeld, maar het hierna verdwyn, het Redelinghuys gesê.

Sy twee medebeskuldigdes het wel opgedaag en is onmiddellik op borgtog vrygelaat.

Mqwathi het die gereg ontduik en selfs in ’n luukse hotel oornag voordat hy homself oorgegee het, het Redelinghuys gesê.

Terwyl hy soek was, het hy ’n SMS aan die aanklaer, adv. Mvusemi Ponye, gestuur om te sê hy sal nie hof toe kom nie. ’n Oproep is ook aan die ondersoekspan gemaak waarin hulle uitgetart is.

Redelinghuys het gesê Mqwathi was “baie ekonomies” met die feite wat hy in sy borgtogaansoek gebring het en het nie oop kaarte met die hof gespeel nie.

Mqwathi het onder meer gesê dat hy vier eiendomme besit, maar dit het aan die lig gekom dat hy nege eiendomme besit.

Hy het heelwat halwe waarhede aan die hof verskaf en genoem dat hy ’n paspoort het, hoewel hy inderwaarheid twee besit.

Dit het tydens die borgtogaansoek aan die lig gekom dat Mqwathi die drie meenthuise wat hy in Kroonstad besit, binne drie jaar in kontant kon afbetaal.

Bedrae van soveel as R600 000 is in sy bankrekening inbetaal.

Sy maandelikse salaris by die munisipaliteit was R56 000.

Mqwathi is gelas om sy paspoorte in te handig en nie kontak met munisipale werkers te maak nie.

Adv. Harold Knopp het Mqwathi se aansoek om borgtog gebring.

’n Groot groep inwoners het die verrigtinge bygewoon.

Van hulle het gesê hulle “wil die man sien wat hul geld gesteel het”.

Die drie moet op 12 Augustus weer in die hof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.