Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Die Here restoureer Kroonstad’

Sophia Wessels (34), wat jare terug saam met haar gesin uit Kroonstad getrek het, se lewe het ’n Oosterse draai geloop voor sy weer hier anker gegooi het.

Sy bied nou dramaklasse by die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooies) aan.

Altesaam 19 jaar gelede het die Wesselse, pa Johan en ma Ange­line, van Hamiltonsrus in die Kroonstad-distrik, hul goedjies gepak en na die Strand getrek.

Die vyf Wessels-sibbe, Francois (Frannie), Robbie, Annarie, Sophia en Hamilton (Hammie), het net mooi herinneringe van Kroonstad.

As dramaturg wat haar kwalifikasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, het Sophia, toe haar bekende sangerbroer se eerste album die lig sien, na Pretoria getrek om Robbie as persoonlike assistent by te staan.

Sy het drie jaar lank die musiekbedryf se glorie en moeilike omstandighede leer ken en ook by kinder- en opvoedkundige teater by skole betrokke geraak.

“Drama hou jou nederig. Almal wil graag famous wees. Jy meet jou sukses aan jou bekendheid. God se plan vir my was egter anders,” sê Sophia.

’n Rol in die produksie Sakrament het haar teruggelok na die suide, waar sy studeer het.

“In Sakrament het ek saam met Willem Anker (teksskrywer), Stian Bam en Eben Genis gewerk, en dit was ’n ongelooflike ervaring.”

Saam met vier vriendinne is The Stage Performing Arts School and Theatre in Durbanville gebore.

Om kop bo water in die drama-, sang- en dansbedryf te hou, en ’n teater vir 100 mense aan die gang te hou, was moeilik.

“Ons is op ons knieë gedwing. Op ’n dag het ’n pastoor opgedaag en gesê dat hy geroepe is om kerk in die teater te hou.

“Dis toe dat ek by evangelisasie betrokke geraak het.

“Ek moes iewers skree om hulp en deur evangelisasie is ’n lewenspad saam met die Here vir my gebaan,” sê sy.

Sy praat oor die louwarmpad wat jong mense met God stap.

“Deur evangelisasie het ek ’n ander definisie gekry van wat dit is om die Here te dien. Hy het my ‘opgetel’. ”

’n Deur het vir haar oopgegaan om die Here te dien en nie net ’n aktrise te wees nie.

Binne twee jaar het sy in Thailand beland, nadat sy alles verkoop het om by ’n sendingskool daar te werk.

Haar Thaise pad het haar op ’n eiland laat beland.

“Daar was nie iemand wat lofprysing kon lei nie. Wel, ek kon kitaar speel, maar ek het nie gedink dat ek kan sing nie. Dit was nooit my passie nie.

“Nog ’n jaar op die eiland het daartoe gelei dat ek by uitreik­projekte betrek is.

“Ek het vir Thaise kinders Engels gegee en die gospel versprei.

“Ek het nie hul hart verander nie, maar die Here het my hart verander.”

In 2017 het ’n goeie vriend van Kroonstad haar uit die bloute gekontak en vir haar begin bid.

“Dit het my in die laaste jaar in die Ooste geestelik gedra.”

Toe die uurglas in Thailand begin leegloop, het sy “ ’n geestelike honger gekry” om in Kroonstad in die kerk van haar vriend te bedien.

“Sonder werk en verblyf het die Here ’n Kroonstadse deur vir my oopgemaak.”

’n Werksdeur het later vir haar oopgegaan om dramaklasse Rooies aan te bied.

“Dit is wonderlik om deur die dramaklasse en my dramaskool met die jong mense te partner om ’n pad saam met die Here te stap.

“Ek deel dramakundigheid met die leerlinge om selfvertroue vir enige roeping te kweek.”

Sophia en Robbie werk nie noodwendig saam in die bedryf nie, maar hulle het ’n noue verbintenis en wil hul roeping in die wêreld vervul.

Sy gedy in Kroonstad en is dankbaar vir die grondslag wat gelê is as jong kind – en die vredevolle en liefdevolle lewe wat sy toe saam met vier broers en susters kon ervaar.

Die herinneringe oor hoe dit is om ’n jong mens op die platteland te wees bemagtig haar om met die leerlinge te vereenselfwig.

“Ek het hoop vir Kroonstad. Ek sien hoe die Here regtig dinge begin restoureer. Hy bou die plek stukkie vir stukkie weer op. Dis ’n puik gemeenskap, met mense wat vir mekaar omgee.”

Sy glo die Here het ’n doel vir elke mens op aarde. Ook dat God ’n mens wys wat om te doen.

“Ek was op ’n punt in my lewe dat ek alleen sou faal, maar toe ek my lewe vir Hom gee, het ek besef Christus is die enigste weg tot God.”

Sophia wil graag ’n volwasse dramagroep begin.

Haar droom is ook om ’n lofprysingskool te begin waar jong mense van die land hul identiteit in Christus kan vind en hul talente kan vorm.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.