Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Diewe stroop mielielande

Mieliediefstal in die Vrystaat het so toegeneem dat boere nou duisende rande aan veiligheidswagte bestee om hul landerye op te pas.

Die diewe steel tot drie ton mielies per dag in seker dele van die provinsie en dreig selfs die veiligheidswagte met kapmesse en vuurwapens, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL).

Die diefstal kom veral tussen Maart en Julie voor.

Buys sê inligting van VL se VKB-veiligheidsafdeling wys dat voorvalle in gebiede soos Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Ficksburg, Heuningspruit, Hobhouse, Hoopstad, Kestell, Kroonstad, Odendaalsrus, Reitz en Wesselsbron plaasgevind het.

“Ons het nou ’n vraelys opgestel om die impak en omvang van die diefstal te probeer bepaal. Boere kom agter hulle lewer minder mielies as waarvoor hulle gekontrakteer is.

“Hulle verloor miljoene rande weens die diefstal,” sê Buys.

Volgens haar is mieliediefstal ’n georganiseerde misdaad.

Groterige groepe mense pluk die mielies, waarna dit in gebruikte kunsmissakke gesit en op bakkies vervoer word. Die mielies word dan teen R2 elk in townships verkoop, sê sy. Rudi Jansen van Vuuren, ’n boer en veiligheidskoördineerder vir VL in die Allanridge-Odendaalsrusomgewing, sê hy en vier buurmanne het verlede jaar tussen R70 000 en R90 000 bestee aan veiligheidswagte om hul landerye te probeer beveilig. Dit het ongelukkig min resultate opgelewer.

“Hulle het my wagte met vuurwapens aangehou, kaal uitgetrek en hul selfone, kos en flitsligte gesteel.

“Die wagte is nou bang om in die aande te werk,” sê hy.

Volgens Jansen van Vuuren het zama zamas ’n buurman se wagte met ’n AK47-vuurwapen aangehou, hulle hul klere laat uittrek en ook beroof.

’n Ander buurman het een van sy landerye met ’n elektriese heining omhein en het wagte wat die lande patrolleer.

“Dit is nie ’n nuwe ding nie, maar dit word nou erger. Die bendes het die laaste twee jaar betrokke geraak en dinge het vererger,” sê hy.

Buys en Jansen van Vuuren is dit eens dat mieliediefstal moeilik is om te polisieer omdat dit moeilik is om te bewys waar die mielies gesteel is, en omdat sake in die howe sloer. Diewe raak ook vinnig ontslae van die sakke gesteelde mielies en verdwyn wanneer hulle bakkies gewaar.

Volgens Buys is mieliediefstal so ’n groot probleem dat daar Woensdag 5 Junie in Kroonstad ’n intervensievergadering hieroor met landbougemeenskappe gehou is.

“Dit wil voorkom asof daar daagliks van twee tot drie ton mielies in die Kroonstad- en Vredefortomgewing gesteel word,” sê sy.

Buys sê die prioriteitskomitee is versoek om dringend aan mieliediefstal aandag te skenk.

Sy sê die Nasionale Vervolgingsgesag is ook gevra om te kyk na die suksesvolle vervolging van sake in hof vir die besit van vermoedelik gesteelde mielies.

  • In Mei het veiligheidswagte vyf mans betrap waar hulle glo mielies op die landbouterrein van die Hoërskool Kroonstad (Bloues) probeer steel het.

Cornelius Gideon Keller (26), ’n plaasvoorman, Toko Jonas Molise (21), Paballo Maselesele (23), Tiisetso Maseli (25) en Abraham Hlalele (24), almal veiligheidswagte, het drie van die vermeende diewe aangekeer en na bewering só erg aangerand dat een van die mans, Meshack Rakaki (31), aan sy wonde dood is.

Al vyf mans is in hegtenis geneem en later op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle moet weer einde vandeesmaand in die hof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.