Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Egpaar aangerand

Skaars twee weke ná die grumoord op Gert Burger, ’n bejaarde inwoner van Kroonstad, is ’n bekende egpaar in die vroeë oggendure in hul huis deur vier gewapende rowers oorval.

MC (72) en Beulah (71) Eksteen is Vrydag (08/03) omstreeks 02:58 in hul huis in Amund Weeberstraat, Elandia, deur vier rowers oorval en erg aangerand.

Die rowers het die egpaar met pepersproei gespuit, hulle op die vloer gedwing en vasgebind, hardhandig behandel en aangerand.

Die rowers het gedreig om die egpaar te skiet, en het kontant en goue juweliersware gesoek. Hulle het die kaste geplunder en die alarmstelsel uit die een kas geruk.

Die alarm het egter by Corcomm-sekuriteit in Kroonstad alarm gemaak.

Piet Cordier, eienaar, sê nadat die sekuriteitsmaatskappy verskeie oproepe gemaak het en nie die Eksteen-egpaar kon opspoor nie, het hulle dadelik ondersoek gaan instel.

“Ons reaksiespan was binne ses minute op die toneel, en hulle het die Eksteens se erf deurgesoek. Hulle het aan die agterkant van die huis ’n oop venster gekry. Die diefwering was oopgebuig.

“Hulle het dadelik ingegaan en die erg getraumatiseerde Eksteen-gepaar vasgebind gevind.”

Die vier verdagtes het vermoedelik op die vlug geslaan voordat die sekuriteits­maatskappy en owerhede opgedaag het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisie­woordvoerder, het bevestig dat die rowers kontant, goue juwele en ’n skootrekenaar gesteel het.

Die Eksteen-egpaar is vir behandeling van hul beserings in die Netcare Kroon-hospitaal opgeneem en is Vrydag ontslaan.

“Ons is baie dankbaar dat ons ouers die voorval oorleef het en dat hulle nou veilig is,” het Lizelle Swanepoel, die egpaar se dogter, gesê.

MC en Beulah is bekendes in onderwyskringe en was tot voor hul aftrede by die Hoërskool Kroonstad betrokke.

Die egpaar se seun, JW, is ’n veearts in die dorp. Sy vrou, Pauline, het gesê almal is vreeslik geskok oor die voorval, maar baie dankbaar dat haar skoonouers betyds gered is.

Cordier het bevestig dat ’n vlaag van misdade die afgelope twee weke in Kroonstad voorgekom het.

Hy maan inwoners om baie meer versigtig te wees.

Hy meen Kroonstad ondervind ’n vlaag van gewaagde inbrake by woonhuise terwyl inwoners tuis is.

¦Inbrake vind selfs plaas by huise met alarms – veral as alarms nie geaktiveer word nie.

“As daar aan jou huis se vensters of deure gepeuter word, druk onmiddellik jou alarm se paniekknoppie om die misdadigers af te skrik en jou sekuriteitsfirma te ontbied. Hou jou koordlose paniekknoppie ten alle tye by jou,” sê Cordier.

“As jy ondersoek gaan instel, wees uiters bedag en hou ’n handwapen – of enigiets wat as wapen kan dien – byderhand om jouself te beskerm. Dit is egter die veiligste om kontak met misdadigers te vermy.

“Onthou daar is meestal meer as een misdadiger. Hulle is rats, vol adrenalien en meestal gewapen.

“Dus is dit uiters gevaarlik om hulle te betrap.”

Die polisie ondersoek die saak en enigeen met inligting kan konst. Keneiloe Qakoshe by 056-216-7504 of 060-339-3142 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.