Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Einde van ’n era bring ook nuwe begin

Hierdie is die laaste uitgawe van Kroonnuus.

Ons koerant, wat in 1986 begin is en weekliks getrou by ons afgelewer is, het die einde van sy era bereik.

Voorts sal die koerant VrystaatKroon heet.

As jy Google beraadslaag en “die einde van ’n era” of “die begin van ’n nuwe era” intik, staan jy verstom met hoeveel trefslae daar is – en in watter konteks dié frases gebruik word.

Selfs ons geliefde en oudste dagblad, Volksblad, se hoofopskrif was met sy laaste gedrukte uitgawe op 8 Augustus juis dit – “Die einde van ’n era.”

Ons gebruik dié sinnetjie vir gebeure wat tot ’n einde kom, mense wat nie meer met ons is nie, politieke bestelle wat uitgedien is, skole, kerke en besighede wat saamsmelt, noem maar op.

Tog, in die meeste gevalle beteken die einde van ’n era ook die begin van iets nuuts.

Hier is dit ook weer die geval.

Wanneer ek ’n roudiens lei, verwys ek graag na ’n kindjie in die familie wat treur. Hiermee hoop ek om ’n spesifieke boodskap oor te dra: Ons staan vandag aan die einde van ’n era, maar in die kleintjie sien ons reeds ook die begin van ’n nuwe.

Ek moes onlangs ’n begrafnis namens iemand anders waarneem omdat hy pa geword het.

Dit was ’n spesiale oomblik waarin hierdie waarheid deur almal ervaar is: Terwyl ons aan die einde van iemand se lewe gekom het, het ons terselfdertyd reeds by die begin van iemand anders se lewe gestaan.

Dit het my net weer laat besef die Prediker, in al sy wysheid, was reg toe hy op ’n dag geskryf het: Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. – Pred. 3:1

En dan noem hy ’n stuk of 15 sake op wat of ’n begin én ’n einde het, of teenoorgesteldes is.

Dit is die ritme van die lewe – en ons gaan dit nooit kan ontsnap nie. Dit is hoe die Here in sy alwysheid bedoel het dit moet wees.

Ek glo daarom dat die einde van ’n era nie altyd as iets slegs ervaar hoef te word nie; ’n geboorte of ’n nuwe begin hou altyd iets opwindends, verrassends en lekkers in.

Mag dit ook van die einde van Kroonnuus en die begin van VrystaatKroon waar wees.

Ek bid die Heer se ryke seën oor hierdie afsluiting van ’n era en die begin van ’n nuwe een af.– Ds. Christo Weideman, NG kerk Kroonheuwel-Noord

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.