Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Flinke en deeglike dienslewering ’n riem onder die hart

Die NFSCG word deur die Kroonstad-gemeenskap ondersteun, en dus ondersteun ons organisasie ook ons plaaslike besighede.

Ons het egter gedurende die feestyd ’n baie slegte stel afgetrap by ’n groot plaaslike supermark in Kroonstad.

Op 15 November het ek ons kospakkie-bestelling per e-pos aan die supermark se bestuurder gestuur. Die bestuurder het die kwotasie teruggestuur, wat ons aanvaar het. Die bestellings sou op 17 November en 10 Desember afgehaal word.

Ons beplanning was om die Kers-kospakkies op Donderdag 12 Desember aan 95 pasiënte en hul gesinne, altesaam 570 mense, te versprei.

Ek het ook gereeld aan die bestuurder besoek gebring om myself te vergewis dat alles onder beheer is.

Op 10 Desember het alle chaos uitgebreek. Die bestuurder was vir ’n week nie beskikbaar nie en die personeel het niks van ons bestelling geweet nie. Ek het ongeveer 120 selfoon­oproepe na die bestuurder gemaak, maar sy het nie eens die moeite gedoen om haar selfoon te antwoord of om terug te bel nie.

Ek het my kontaknommer by ’n assistent by die toonbank gelos en gevra hulle moet my dringend terugskakel, wat nooit gebeur het nie. Ná vele oproepe en besoeke aan die supermark het ’n assistent gesê dat ons volgens haar inligting die bestelling eers op 6 Desember deurgestuur het, wat te laat is.

Dit was met ongeloof, skok, verbystering, verslaentheid en absolute woede wat ek dit ervaar het. In minder as 48 uur moes ons die kospakkies aflewer.

Ná nog probeerslae om vir sekere van die produkte te onderhandel, moes ek aanhoor dat die rakke leeg sou wees. Daar staan ek, publieke kliënt, met kontant in my hand – maar hulle weier om aan my te verkoop. Ek het die hele bestelling net daar gekanselleer en is met ’n spoed na ’n ander supermark in die middedorp.

Ek het aan die bestuurder my dilemma verduidelik en hy het dadelik telefonies gereël om ons bestelling met die hulp van hul takke in Welkom, Bloemfontein en Bethlehem reg te kry. Sy belofte aan my was dat ek die hele bestelling op Donderdag 12 Desember teen 10:00 kon afhaal.

Intussen het ons indringend reëlings getref om die kospakkies ’n dag later te versprei. Groot was my verbasing toe ons daar arriveer en sien dat alles reeds gepak en gereed was vir aflewering.

Baie dankie, Hannes Strydom. Jy en jou personeel is voorwaar ’n uitstekende voorbeeld van hoe dienslewering moet geskied.

Ns: Ek het die hele insident per e-pos met die ander bestuurder bespreek en sy het net haar verskoning aangebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.