Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Groot gees gegroet

Kroonstad is verlede week in rou gedompel met die afsterwe van verskeie bekendes in die dorp.

Een hiervan is die ervare sakeman Willem Els (59), wat aan Covid-19 oorlede is.

Willem en sy vrou, Alta (61), is albei positief getoets.

Willem se toestand het versleg en hy het op Sondagmiddag 19 Julie die stryd teen die virus verloor.

Alta het egter goed herstel en is Dinsdag (21/07) uit die hospitaal ontslaan. Sy sterk steeds aan.

Willem, ’n gebore Kroonstadter, en sy jongste seun, Jacques, het Kroon-paneelkloppers bedryf, en hy was ook die eienaar van die gesogte Jordaniapark-aftreeoord.

Die oord het hy ontwikkel vir bejaardes, wat hom na aan die hart gelê het, en sy oudste seun, Tiaan, is die bestuurder.

“My pa was ’n ongelooflike en uitstekende sakeman met ’n hart van goud. Hy het altyd ander se belange voor sy eie gestel en was baie lief daarvoor om mense te help,” sê Tiaan.

Kroon-paneelkloppers is destyds deur Willem, sy broer Chris en hul pa, Frederick Els, begin. Die onderneming bestaan al 44 jaar lank.

Willem word as ’n uiters vaardige vakman beskou, wat met verskeie pryse vir sy meesterlike handewerk in die paneelklopper­bedryf vereer is.

Tiaan sê dit was in sy pa se beplanning om binnekort af te tree, en die egpaar het heerlike aftreeplanne gehad.

Willem was mal daaroor om in Kaapstad en omgewing te gaan vakansie hou en Alta se kos was sy gunsteling. Hy het ook nie sommer verby ’n heerlike pannekoek geloop nie.

Willem het verskeie stokperdjies gehad en uiteenlopende dinge het hom na aan die hart gelê.

Sy liefde vir diere was byvoorbeeld alombekend. Oorkant Jordaniapark is ’n stuk grond met ’n verskeidenheid diere, en hy sou saans ná werk daar gaan kop skoonmaak en die diere vertroetel.

Veteraanmotors was vir hom ook ’n groot passie. Sy blinkgepoetste Rolls Royce-motors was sy gunsteling en heel bo-aan die lys van die spoggerige motors wat hy besit het.

Hy was welbekend in veteraanmotorkringe en het dié liefde met vriende en kennisse van oor die land heen gedeel.

’n Konvooi van Willem se motors wat deur familie en vriende bestuur word, sal Vrydag (31/07) op ’n gedenkroete deur Kroonstad ry. Die eerbetoning sal aanvullend tot sy roudiens gedoen word.

“Deur met die motors stadig deur die dorp te beweeg wil ons aan inwoners ’n geleentheid gee om van my pa afskeid te neem, omdat daar slegs 50 mense by sy roudiens toegelaat word,” verduidelik Tiaan.

Almal met veteraanmotors word genooi om deel te neem.

Willem is reeds verlede week veras, want ingevolge Covid-19-regulasies moet dit binne drie dae ná iemand se afsterwe gedoen word.

Sy as sal ’n plek in die veld oorkant die Jordaniapark-aftreeoord kry, waar sy geliefde diere is.

Sy roudiens in die NG Moedergemeente Kroonstad sal deur ds. Marius Ellis gelei word.

Willem word deur Alta, Jacques en Tiaan, sy skoondogter, Cindy, en twee kleinkinders, Chlöe en Wian, oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.