Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hou jou wapen veilig’

Talle vuurwapeneienaars weet nie presies wat hulle moet doen as hul vuurwapenlisensies verval het nie.

Op die sosiale media word mense aangemoedig om geensins hul vuurwapens by polisiekantore in te handig nie.

Dít ondanks die polisie wat mense juis aanmoedig om vuurwapens én ammunisie sonder vrees by die naaste polisiekantoor in te handig. Indien nie, kan vuurwapeneienaars vervolg word.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en wildbewarings­vereniging (SA Jagters) sê wapeneienaars word deur sy vereniging aanbeveel om wapens veilig te stoor en nie daarmee rond te ry of dit te gebruik as die lisensies verval het nie.

“Die nasionale kommissaris van die polisie, as registrateur van die Wet op Vuurwapenbeheer, moet duidelike instruksies aan die polisiekantore én die publiek gee oor hoe die wapens, waarvan die lisensies verval het, by onderskeie polisiekantore ontvang en gestoor moet word,” sê Camphor.

Hy sê daar is in onderskeie provinsies verskillende stelle reëls oor die hantering van vuurwapenlisensies en wapens wat ingehandig is.

Om ’n lisensie te hernu, moet die wapen­eienaar minstens 90 dae voordat die lisensie verval, vir hernuwing aansoek doen. Dít moet te alle tye nagekom word, sê Camphor.

Hy is bekommerd oor die polisie se vermoë om wapens wat ingehandig is, korrek te stoor en te vernietig.

“Bewyse is ingedien dat die grootste verskaffer van wapens in bendegeweld, aanvalle en terreur die polisie en die weermag is.”

SA Jagters het 43 000 lede. Tussen dié lede word nagenoeg 1 000 vuurwapens maandeliks gelisensieer of geherlisensieer.

Camphor sê die huidige veiligheidsituasie en burgers se soeke na selfverdediging noop mense om hulself te bewapen.

“Ons kan ’n styging in die verkope van handwapens in die mark sien. Derhalwe is regulering en die polisie se duidelike riglyne en versekering nodig om lisensies korrek en ingevolge die wet uit te reik.”

Hy sê terwyl die Pretoriase hooggeregshofsaak en die grondwethof se hersiening van die uitspraak oor die uitreiking van vuurwapenlisensies aan die gang was, is verskeie wapeneienaars glo deur polisielede aangesê om eers te wag met die aansoek om hernuwing van vuurwapenlisensies totdat die saak afgehandel is.

“Nou het van dié wapeneienaars se lisensies verval en die wapeneienaars word in die war gelaat. Hierdie wapeneienaars word bloot meegedeel dat die lisensies verval het en die wapens vir vernietiging ingehandig moet word,” sê Cam­phor.

In Maart 2016 is ’n hofaansoek deur SA Jagters gedoen. Dit is in April 2017 aangehoor en uitspraak in Julie 2017 in Gauteng-Noord het in die guns van SA Jagters beslis. Die hofbevel het bepaal dat die wapenlisensies wat verval het, geag sal word om geldig te bly totdat die grondwethof ingevolge die wet op vuurwapenbeheer oor die grondwetlikheid van die twee artikels in die wet beslis het, sê Camphor.

Die polisie het teen dié uitspraak geappelleer.

In Junie vanjaar het die grondwethof beslis dat die polisie se appèl slaag en die bevel van Julie 2017 in die Noord-Gautengse hooggeregshof omvergewerp.

Die gevolg hiervan is dat alle wapens waarvan die lisensies volgens die nuwe wet verval het, onwettig in besit is en volgens die polisie ingehandig moet word vir vernietiging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.