Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ingenieur se dood betreur

“Dit was vir ons ’n baie emosionele en vreemde tyd, en as gevolg van die pandemie kon ons eers bykans ’n maand nadat my pa oorlede is ’n behoorlike roudiens vir hom hou,” sê Albert Louw, seun van welbekende en gerespekteerde siviele ingenieur van Kroonstad, Cobus Louw, wat op 3 Julie oorlede is.

Louw (93) is aan natuurlike oorsake oorlede in die oord in Johannesburg waar hy tuisgegaan het. Die familie het op 7 Augustus in die St. George-kerk in Parktown finaal van hom afskeid geneem.

Hy was ’n Kroonstadter in murg en been wat van die vroeë 1950’s tot onlangs nog hier woon­agtig was.

Louw is op 23 September 1927 op Eendekuil in die Mooreesburg-distrik gebore en het in Somerset-Wes en in Bellville grootgeword.

Nadat hy op die ouderdom van 21 ’n graad in BSc Ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, was hy as jong ingenieur by projekte soos die bou en ontwikkeling van die Du Toitskloofpas betrokke.

In 1957 is hy as stadsingenieur by die plaaslike munisipaliteit in Kroonstad aangestel. Onder sy leiding het die dorp op verskeie geleenthede die eerbewys as Vrystaatse model-dorp van die jaar losgeslaan.

Hy was ook betrokke by die ontwerp van verskeie infrastruktuurprojekte en ontwikkelings in die destydse Transvaal, asook die bou van damme by Kroonstad, Harri­smith en Koffiefontein.

Later het hy ’n private praktyk begin, LM & Vennote Ingelyf, en was hy die senior vennoot van die raadgewende siviele ingenieursfirma in Kroonstad.

Die firma het strukturele ontwerpe en die bou van verskeie provinsiale en nasionale paaie, skole, riool­stelsels, onafhanklike elektrisiteit-stelsels en kragsentrales in Kroonstad behartig. Soortgelyke projekte in 62 ander dorpe en stede in Vrystaat en Gauteng is ook gelei.

Louw het op verskillende rade bemoeid met siviele ingenieurswese, asook die raad van die Internasionale Waterbestuur-instituut, wat in Londen gebaseer is, gedien.

Vir jare het hy as raadslid in Kroonstad gedien.

Die blywende monument van Louw is die gebou 54 Hill Street Place, wat op die hoek van Steyn- en Hillstraat pronk.

Louw word as ’n hardwerkende, eerbare, intelligente en briljante man, pa, skoonpa en oupa en merkwaardige ingenieur beskou.

Op ’n vroeë ouderdom het hy reeds die lewensbeskouing gekweek dat harde werk die enigste manier is om sukses in die lewe te behaal. Dié eienskap het hy ook aan sy drie seuns oorgedra.

Hy en sy vrou, Hetta, was vir 60 jaar getroud, en die egpaar het drie seuns gehad: Gys, Albert en Cobus. Cobus jr. is in 1981 oorlede. Albert en Gys is albei suksesvolle sake­manne in eie reg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.