Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners in hof weens oproer

Altesaam 12 inwoners van Brentpark is weens openbare geweld in hegtenis geneem ten tyde van protes­optrede waardeur hulle hul misnoeë uitgespreek het oor die plaaslike munisipaliteit se swak diens­lewering aan die buurt.

Woensdag (03/04) het ontstoke inwoners paaie in die nywerheidsgebied van Kroonstad met brandende bande en ander voorwerpe versper.

Dit kom ná ’n vorige protes­optrede wat op 12en 13 Maart plaasgevind het, toe inwoners ’n griefskrif aan Motshidisi Koloi, burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit, oorhandig het.

Die griewe het onder meer tekortkominge rakende basiese diens­lewering in die buurt ingesluit wat al geruime tyd ’n kwessie is en waaraan die munisipaliteit volgens die inwoners nie gehoor gee nie, ondanks verskeie klagtes wat ingedien is.

Die onderbreking van elek­trisiteitstoevoer is glo sedert Januarie ’n kwessie, maar ná ’n brand op 23 Februarie by die kragstasie in Kroonstad het die probleem vererger.

Volgens die griefskrif is werkloosheid en ander gemeenskapskwessies van die klagtes wat die inwoners warm onder die kraag het.

Koloi het ’n taakspan saamgestel om die griewe te ondersoek. Volgens Dika Kheswa, woord­voerder van die munisipaliteit, het die taakspan verlede week saam met belanghebbendes van Brentpark vergader.

“Ons het op die vergadering aan die afgevaardigdes verduidelik dat die munisipaliteit aandag skenk aan die griewe wat wel onder die ampsgebied van die munisipaliteit val,” sê Kheswa.

“Die probleme sal egter nie oornag opgelos kan word nie, maar die munisipaliteit is besig om daaraan te werk.”

Kheswa het genoem dat Brentpark beslis nie die enigste woonbuurt in Kroonstad is wat deur al die diensleweringskwessies geraak word nie, dat ander inwoners ook dieselfde probleme ervaar en dat die munisipaliteit aan almal moet aandag gee.

Die inwoners is egter steeds van mening dat die munisipaliteit net leë beloftes maak.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die protesoptrede onder beheer is en dat 12 verdagtes weens openbare geweld in hegtenis geneem is. Hulle het Vrydag (05/04) vir borgtogaansoek in die Kroonstadse landdroshof verskyn.

Inwoners het Donderdag (04/04) vreedsaam ter onder­steuning van die 12 voor die Kroonstad-polisiekantoor vergader.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.