Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kennis oor outisme bemagtig ouers

Elke jaar op 2 April word bekende landmerke oor die wêreld heen met blou belig om die fokus op outisme tydens Wêreldoutisme-bewusmakingsdag te plaas.

Wanneer ’n kind met outisme diagnoseer word, bied dit talle uitdagings.

Anelda Hurter (42) vertel van hul mylpale met ’n outistiese kind in die gesin.

Anelda en haar man, PG (48), wat in die Ficksburg-omgewing grootgeword het en gereeld in Kroonstad kuier, bly vir reeds meer as twee dekades in Perth in Australië.

Ná die egpaar hul voete gevind het, het hulle besluit om met ’n gesin te begin. Die naamgenoot van PG se wyle oupa is met groot afwagting verwelkom. Min het die Hurters geweet dat hulle vir altyd ’n kind, wat prematuur gebore is en outisties is, in die huis sal hê.

Weens pre-eklampsie, wat onder meer deur hoë bloeddruk tydens swangerskap gekenmerk word, is Hayward (nou 11), op 12 Maart 2007 op 27 weke gebore. Hy het slegs 870 g geweeg.

Dít nadat Anelda vir vier weke gehospitaliseer was om haar en sy lewe te red. Hayward is vir 11 weke in die neonatale intensiewesorg-eenheid (ISE) opgeneem.

Skuldgevoel

Anelda sê sy het ’n stryd met haarself gevoer omdat sy skuldig gevoel het omdat sy pre-eklampsie ontwikkel het en Hayward aanvanklik met geskenkte borsmelk gevoed moes word.

In die ISE is soms tot vier verskillende antibiotika aan Hayward toegedien om infeksies, tipies aan premature babas, te beveg.

“Dié lewensnoodsaaklike antibiotika is aan hom toegedien, al het sy spysverteringstelsel nog nie ontwikkel nie,” sê Anelda.

Navorsing wat in Kanada gedoen is, wys dat die flora in die spysverteringstelsel van outistiese kinders swak gebalanseer is. Die hoof van die neonatale eenheid in die Fiona Stanley-hospitaal in Perth, dr. Jean du Plessis, het ook navorsing hieroor gedoen en gee vir alle premature babas pro-biotika sodat die flora-balans in die spysvertering kan stabiliseer.

Ná byna drie maande van hospitalisasie kon Hayward vir die eerste keer huis toe gaan.

“Ons het hom gekoester. Hy het vir ure bo-op ons geslaap. Hy het ons ouerlike kontak gemis.”

Slaappatroon

Hayward het vroeg reeds baie gesukkel om aan die slaap te raak.

Hy het gereeld wakker geword en kon vir ure met homself in sy bedjie praat.

Die slaapprobleem was dalk die eerste teken dat alles nie neuro-tipies ontwikkel was nie, sê Anelda.

Voeding

Hayward kon bykans niks melk binnehou nie en het gemiddeld slegs 25 ml melk per dag gedrink. Dít was ’n teken dat die spysverteringstelsel nie ontwikkel het nie.

Gereelde mediese ondersoeke het vroeg gewys dat Hayward nie saam met sy tydgenote ontwikkel nie.

“Met sy ondersoek op 12 maande het die dokter genoem dat tekens van outisme waargeneem word.

Balans, sensitiwiteit vir lig

Hayward het nooit “tata” gewaai nie of na iets wat hy wil hê, gewys nie - ’n voorloper tot kommunikasie. Verbeeldingspel was ook op 12 maande heeltemal afwesig.

Hy was baie sensitief vir lig en het erg geskree in die motor. Hy het ook baie maklik geskrik.

Boonop was sy balans swak en hy het baie geval. Hy kon ook nie sy ledemate identifiseer nie.

“Hy het ook nie reageer as jy sy naam roep nie,” sê Anelda.

Taal

Die Hurter-gesin is ten volle tweetalig en dit het taalvaardigheid vir Hayward nóg moeiliker gemaak.

Die pediaters het aanbeveel dat dit goed vir breinontwikkeling is om meertalig te wees.

“Al was dit ’n moeilike berg om te klim, was dit steeds die regte ding om hom tweetalig groot te maak,” sê Anelda.

Sy woordeskat is op 11 jaar uitsonderlik goed.

Diagnose nie vroeg gemaak

’n Amptelike diagnose vir outisme mag nie vroeg gemaak word nie.

“Ons is na ’n arbeids-, ’n speel- en later ook ’n spraakterapeut verwys. Hayward is op driejarige ouderdom met ‘global development delay’ gediagnoseer.”

Obsessies

Hayward het ’n belangstelling in Thomas the Tank, ’n animasierolprent, begin toon. Baie boeke en speelgoed met dié tema was op die mark en is aangekoop.

“Ons was in die wolke. Min het ons geweet dat ons ’n obsessie voer wat tipies by outistiese kinders is,” vertel Anelda.

Sy obsessie hiermee het veral sy dag- en nagpatroon baie beïnvloed.

Hayward se vermoë om detail raak te lees, is egter ongelooflik. Sy geheue is ook puik, sê Anelda.

Op driejarige ouderdom is sy vermoë om detail te sien, getoets. Hier het Hayward uitgestyg en detail soos ’n sesjarige uitgewys.

Op vierjarige ouderdom is ligte serebrale gestremdheid gediagnoseer. Sy terapie is toe uitgebrei met sosiale terapie om met tydgenote oor die weg te kom en te verkeer.

Outisme gediagnoseer

Op vyfjarige ouderdom, toe hy voorskoolse klasse bygewoon het, het die onderwyseres agtergekom dat Hayward nie neuro-tipies optree nie. Hy het nie reageer as hulle hom roep nie, hy het nie met maats gespeel nie en kon nie alledaagse dinge doen, soos ’n kosblik oopmaak of pakkies oopskeur, nie.

’n Paar maande later is Hayward amptelik met klassieke outisme gediagnoseer.

In sy vorige klasse was dit nodig dat ’n volwassene hom heeltyds bystaan.

Van vanjaar af is hy in ’n nuwe skool en het nie meer hulp heeltyds by hom nie.

Hy is sosiaal die prettige “eenkant” seuntjie.

Boelies

“Ander kinders kan baie gemeen wees en Hayward het self agtergekom dat hy nie inpas nie. Hy het meer boelies teëgekom in sy kort lewe as wat die meeste van ons in ons hele lewe teëkom,” sê Anelda.

Ander sibbe

Hayward se beste maatjie is sy jonger boetie, Martin (9).

“Martin is so perfek deur God gekies om saam met Hayward groot te word.

“Ons het van vroeg af vir Martin verduidelik dat Hayward outisties en spesiaal is. Die verhouding tussen die boeties is werklik mooi.

“Ons moet baie sensitief wees met hoe ons die seuns komplimenteer en prys. Ons stimuleer Martin apart met sy sport en vriende sodat hy sy eie identiteit versterk.”

Outistiese kinders is ontaktvol

Hayward se manier om dinge sonder ’n filter te sê en alles letterlik op te neem, is kosbaar, dog harde werk.

“Hy verstaan sarkasme en ’n skimp glad nie. As jy met hom praat moet jy reguit sê wat jy wil sê. Hy word geleer hoe om sy stemtoon te gebruik en fisiese uitdrukking te wys wanneer hy kommunikeer,” vertel Anelda.

Kommunikasie

As ’n outistiese persoon na jou kyk, trek die detail op jou gesig sy aandag af en hy kan nie konsentreer op wat jy sê nie.

Hy kyk weg sodat hy kan hoor. Hulle prosesseer alles op dieselfde tyd – so ’n kind het ’n baie besige brein wat chaoties kan wees.

Outistiese mense se sintuie is baie verskerp.

Ondersteuningsgroepe

’n Baie nuttige Facebook-blad is “Autism Discussion Page” met Bill Nason as administrateur. Dit bied waardevolle wenke en inligting.

“Die diagnose verander nie die kind nie. Bemagtig jouself as ouer met inligting en doen navorsing. Inligting gee vir ouers die gereedskap om te kan help,” sê Anelda.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.