Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koerant sal ons bybly

Dis snerpend koud hier in Toowoomba, Queensland, Australië. My vrou, Amunda, het al gaan slaap. Ek het ‘ek-tyd’ en sit en kyk na die vuur wat in die kaggel brand. Die kaggeldeur raas in ons leënes-huis wanneer ek dié oopmaak om nog hout in te sit.

Ek dink aan die boodskap wat ek van my Kroonnuus-joernalis-vriendin gekry het.

“James, sal jy ’n ‘einde van ’n era’-rubriek vir ons laaste uitgawe skryf?”

Haar woorde het my nostalgies gelaat. Ek diep ou Kroonnuus-berigte op en stap na die swarthout-televisiekas wat ek in my alleenloperdae by die Marlene Grace-meubelwinkel in Hennenman laat maak het.

Met die koms van plasmaskerms, moes ons ’n ander nut vir die kas kry. Dié is tans die tuiste van ons foto-albums.

Ek lees ’n 1993-Kroonnuus-uitknipsel, “Nuut by Genieskool”. Ek kyk na koerantfoto’s van my kinders. Ek grinnik. ’n Knor­pot-omie in Kroonstad het altyd na dit as eie beriggewing verwys. Tog onthou ek hoe heerlik dit vir my was om Kroonnuus se blaaie soos ’n geskenk oop te vou en te sien hoe my spruite opgewonde hul vingers oor die grys foto van hulself op die koerantblad sprei.

Met jaarlikse besoeke aan Suid-Afrika vat ek ou koerante en tydskrifte oor die water. Die gedagte dat gedrukte media mettertyd gaan kwyn, is moeilik vir ’n ouskool-mens soos ek. Maar ek weet ook dat aanpassingsvermoë ’n begeerde siel­kundige eienskap is.

Ek het meermale na die slagspreuk gekyk wat vroulief tussen ander wyshede agter ons toiletdeur geplak het: “Vind jou gemaksone, en verlaat dit”.

Ek hoop veranderde media kondig die begin van kreatiwiteit in ’n ander vorm aan.

Ons gesinsfoto in Kroonnuus voordat ons na Durban verhuis het, het die onderskrif gehad: “Kroonstad was goed vir ons”.

Ons almal in die wêreld is aan mekaar verbind. Ek hoop dat my mede-Kroonstadters hul eie koerantfoto’s in my storie kan inglip en 12 000 km van my ook met dankbaarheid sal dink: “Kroonnuus was goed vir ons”.

Die oud-Kroonstadter en sielkundige James Scott koester koerant-uitknipsels, wat hom aan ’n gemeenskap bind wat vir hom goed was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.