Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Makliker’ is terapeut se missie

“Ek is nie ’n dokter of ’n verpleegkundige nie. Ek is ook nie ’n sielkundige of ’n paramedikus nie.

“Ek is die persoon wat jou geliefde ná ’n beroerte kan help om in die alledaagse lewe onafhanklik te wees.

“Ek kan jou help om ’n hulpmiddel te kies wat kan keer dat jy val, maar ek kan ook ’n kind met outisme help om in stresvolle situasies aan te pas.”

Só het Ilan Mester, ’n Amerikaanse arbeidsterapeut, onlangs die werksaamhede van iemand in dié beroep verwoord.

Louise Liebenberg, ’n arbeidsterapeut van Kroonstad, het met Kroonnuus oor dié redelik onbekende beroep gesels.

“Ek dink dat arbeidsterapie een van die mees betekenisvolle beroepe in gesondheidsorg is,” sê Liebenberg.

“Die kernwerk van ’n arbeidsterapeut is om mense te help om deel te neem aan aktiwiteite wat vir hulle belangrik is.”

Liebenberg sê mense word om verskeie redes verhoed om alledaagse dinge te doen.

“Dié aktiwiteit kan iets in skoolverband betref, of iemand kan sukkel om te stort of kos te maak; iemand kan ook sukkel om ’n sportsoort te beoefen. Die lys kan eindeloos aangevul word.”

Arbeidsterapeute werk in hospitale, klinieke en in die gemeenskap en hul werk behels ’n wye omvang aktiwiteite.

Aanvanklik wil dit voorkom asof arbeidsterapeute nie met geestesgesondheid werk nie, maar Liebenberg sê dié twee loop hand-aan-hand.

“Geestesongesteldheid kan ’n mens verhinder om aan daaglikse aktiwiteite deel te neem.

“ ’n Persoon wat byvoorbeeld met depressie leef, kan dit moeilik vind om wasgoed te was of winkel toe te gaan vir inkopies.

“Net so kan iemand met angstigheid dit byna onmoontlik vind om van openbare vervoer gebruik te maak of om ’n aan­bieding by die werk te doen.”

Liebenberg sê ’n arbeidsterapeut, met ’n kennis van geestes- en fisieke gesondheid, is uniek toegerus om mense te help met take wat hulle moeilik vind.

“Ons beroep het ’n grondslag in alledaagse aktiwiteite en is belangrik en toepaslik in geestesgesondheid,” sê Liebenberg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.