Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mediese ondersoek kritiek in seksklag

Slagoffers van vermeende seksuele misdrywe word aangemoedig om ’n klag by die polisie in te dien.

AO Lizette Mouton, ’n spesialis-ondersoekbeampte van die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings (GKS) in Kroonstad sê nadat ’n verklaring deur ’n klaer of die slagoffer afgelê is, word die dossier na die GKS verwys. Dit is die taak van die GKS om die klaer of slagoffer te kontak om bewerings van vermeende seksuele misdrywe na te gaan.

Slagoffers van dié soort misdaad moet deur ’n mediese dokter by ’n staatshospitaal ondersoek word. Die dokter moet dan alle bevindinge op ’n J88-vorm voltooi en monsters vir ontleding deur die forensiese eenheid in Pretoria neem.

’n Geseëlde pak met toerusting moet in die teenwoordigheid van die ondersoekbeampte oopgemaak en ná die ondersoek geseël word.

“Die dokter moet na die geestestoestand van die slagoffer, asook die alkohol- en dwelmvlak in die bloed van die slagoffer kyk,” sê Mouton.

Alle simptome, tekens of beserings moet deur die dokter aangeteken word. In gevalle waar tekens nie met die blote oog waargeneem kan word nie, word die K9-eenheid se biologiesevloeistof-kenners ingeroep. ’n Mikroskopiese spatsel biologiese vloeistof soos semen, spoeg, bloed en selfs sweet kan uitgewys word.

“Al is dit hoe ongemaklik, word dit aanbeveel dat die slagoffer die klere en onderklere wat tydens die vermeende voorval gedra is, nie was nie. Belangrike DNS-leidrade wat die misdadiger met die oortreding kan verbind, kan opgespoor word.”

Mouton sê die grootste persentasie seksuele misdrywe word gepleeg deur iemand wat aan die slagoffer bekend is. Vir gevalle waarin die misdadiger wel onbekend is, gee Mouton wenke aan slagoffers sodat die misdadiger opgespoor kan word:

  • Probeer die gelaatstrekke van die verkragter onthou. Is hy lig, donker, blas, rooierig? Probeer om littekens en tatoeëermerke te memoriseer.
  • Hoe lyk sy hare? Watter kleur is dit? Is dit reguit, gekrul, kroes of gevleg, en is dit kort of lank?
  • Hoe lyk die verkragter se oë? Watter kleur is dit? Is die oë naby aan mekaar, dalk skeel, gesonke in die oogkaste of dalk rooierig?
  • Het die verkragter ’n snor, baard of skoongeskeerde gesig? Is die lippe dun of vol? Is die tande skeef of uit, of het dit dalk goue versierings in?
  • Is die misdadiger kort en fris, of dalk lank en skraal?
  • Probeer om reuke te onthou. Was daar ’n oorweldigende naskeermiddel se geur of ’n sterk sweetreuk?
  • In watter taal het die persoon dalk gepraat?
  • Met watter vervoermiddel het hy beweeg? Probeer die soort voertuig, registrasienommer en kleur onthou.
  • Is die slagoffer deur ’n voorwerp gedreig en dalk beseer? Sulke voorwerpe kan gesoek word en in die ondersoek gebruik word.

Die GKS versprei dié week pamflette ter bewusmaking van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Engo hou op Maandag (10/12) om 08:00 ’n optog van Woolworths in Cross-straat tot by die Kroonstad-Noord-kerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.