Water is een van die kosbaarste bronne van lewe.
Alle vorme van lewe is daarvan afhanklik en dit is daarom baie meer werd as al die goud en silwer in die wêreld.
Die afhanklikheid van water is egter nie altyd net om oorlewing nie.
Swemmers van Kroonstad sukkel al geruime tyd om te oefen weens die gebrek aan ordentlike swemgeriewe in die dorp.
Swembaddens word leeggetap en dan weer volgemaak, net omdat onvoldoende instandhouding nie gedoen word nie.
Dit is ’n dolk in die hart.
Swembaddens neem duisende liters water om vol te maak. Hoe kan ’n mens dit net leegtap en weer voltap?
As herstel en instandhouding gereeld gedoen word, sal swembaddens nie kort-kort leeg- en volgemaak moet word nie.
Mense sal seker eers eendag skrik wanneer die krane heeltemal droog is.
Dele van die Vrystaat gaan onder watertekorte gebuk.
Die hewige droogtes en wisselvallige weer weens klimaatsverandering het ook ’n groot invloed op watertekorte.
Daarom word daar ’n beroep op inwoners gedoen om water ten alle tye spaarsamig te gebruik en elke druppel te waardeer.