Boris Armoed, Brentpark-inwoner, Kroonstad:
Ek wil graag die nuwe takbestuurder van Checkers in Kroonstad se lof besing. ’n Week of wat gelede het ek by die deli in Checkers gestaan om kos te koop. Terwyl ek wag, het die nuwe bestuurder met die vrou agter die toonbank begin praat oor wat hulle met die dag se oorskietkos gaan doen. Na wat ek kon aflei, was dit voorheen elke dag in bakke gegooi en aan varkboere gegee.
Die bestuurder het oor die saak nagedink en die vrou gevra om die kos eerder aan behoeftige gesinne en honger kinders in die gebied te skenk.
Mnr. P. Flick, baie dankie vir die mooi gebaar. Ek stem saam met u – daar is niks verkeerd met die oorskietkos nie. Ek en my gesin eet self weer daarvan die volgende dag. Ek glo as daar meer mense in bestuursposte is wat ook so redeneer, sal ons dorp, provinsie en land baie meer glimlagte op honger kinders se gesigte plaas.
Mag God u ryklik seën vir wat u gedoen het.