Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oud-onderwyser gegroet

’n Geliefde oud-onderwyser van Kroonstad het sy moedige stryd teen kanker verloor.

Charl de Beer (65), wat jare lank ’n Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Kroonstad was, het op Maandag 1 Julie aan limfklierkanker gesterf.

Ná meer as ’n week in die Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid, is hy omstreeks 05:15 dood.

Volgens Louise Crous (71), sy suster, is limfklierkanker in November verlede jaar by hom diagnoseer.

Hy het glo chemoterapie ontvang, en was die hele April in die hospitaal.

De Beer het aan die Hoërskool Hennenman matrikuleer en sy onderwysgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Voordat hy hom by die Hoërskool Kroonstad aangesluit het, het hy ook by die Hoër Tegniese Skool De Wet Nel skoolgehou.

Hy het nooit getrou nie, maar het ’n groot vriendekring gehad.

“Hy was ’n sagte mens en het vir ander omgegee,” sê Crous.

  • Sy vriende en familie sal hom beskryf as iemand wat voluit geleef het.

Sy kollegas en leerlinge dink met groot nostalgie terug aan ’n hartlike en vrolike mens, wat baie gewild en aangenaam was om mee saam te werk.

’n Ontspanne atmosfeer het in sy klasse geheers, en hy het altyd vir ’n grappie of twee tyd gehad.

Hy was egter ook ’n hardwerkende leerkrag wat ’n reusebydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans gemaak het, en deurgaans goeie resultate behaal het.

Oor die jare het hy homself uitstekend van sy taak gekwyt in die opleiding van ’n streng-gedissiplineerde kadetkorps by albei skole.

De Beer het op 55 uit die onderwys getree en hom op Bloementuin, sy grootwordplaas in die Hennenman-distrik, gevestig.

Sedertdien was hy voluit in die gemeenskap en die NG kerk Hennenman-Oos betrokke.

Hy was ’n diaken en was gemoeid met alle kerklike aktiwiteite.

Elke jaar was hy deel van die kerk se gewilde Kerrie Khaya-feesstalletjie op Aardklop in Potchefstroom, en het ook by die kerk se jaarlikse stalletjie op Nampo kelner gespeel.

Hy het elke geleentheid ten volle benut.

“Dit was ’n voorreg om hom te kon ken,” sê oud-kollega Gera de Jager.

  • De Beer se begrafnis is Maandag (01/08) uit die NG kerk Hennenman-Oos gehou. – Gera de Jager
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.