Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oumas glo aangesê om projek te stop

Sedert 2017 het die groep, wat hulself die Oumas van Kroonstad noem, die regte aansoeke en onderhandelinge by die Moqhaka-munisipaliteit gevolg om sonder enige koste-implikasies vir die munisipaliteit en met ’n deeglike landskapsontwerpte tuinplan die dorp met waterwyse plante en klippe uit die omgewing te verfraai.

Dit sluit die verkeersirkel by Suidweg en Van der Lingenstraat, en die middelman by die Sarel Cilliers-brug oor die Valsrivier in.

“Ons reik ’n hand na die munisipaliteit uit om die onooglikheid te verwyder, orde te skep in ons deurmekaar dorp en die gevoel van trots te herstel,” vertel Annelize Geldenhuis, projekleier saam met Pikkie Combrinck.

Geldenhuis en Combrinck was daarom verbaas toe hulle op 19 Oktober per WhatsApp-boodskap ingelig is dat die Oumas met die projek moet stop.

Dít nadat die direkteur vir die parke-afdeling, Portia Tshabalala, telkens haar steun en dankbaarheid teenoor die projek uitgespreek het.

“Sy het ons verseker dat die afdeling ook arbeid sal beskikbaar stel. Vir een dag het ’n paar mense opgedaag en minder as twee uur gewerk, omdat hul glo ’n ander vergadering gehad het.

“By soveel geleenthede wat ons vir hulp van die munisipaliteit gevra het, is daar gesê die spanne werk in Steynsrus en kan nie in Kroonstad werk nie,” sê Combrinck.

Om die parke-afdeling se onderskeie bestuurders in die hande te kry, blyk ook glo ’n onbegonne taak te wees.

“Dít word as verskoning gebruik waarom ’n eenvoudige e-pos, waar toestemming aan ’n konstruksiemaatskappy gegee kan word om die fontein met bourommel op te vul en verder met grond vir die verfraaiing op te vul, nie deur die direkteur gegee kan word nie,” sê Geldenhuis.

Ongeag die werk wat die Oumas reeds kosteloos by die terrein gedoen het, kry die groep nou die wind van voor om die dorp se fokuspunte netjies te kry.

Intussen is inwoners vuur en vlam om waterwyse plante uit hul tuine vir die projek te kweek.

“Inwoners was nog altyd die projek goedgesind,” sê Combrinck.

Die projekleiers sê die konstruksiemaatskappy sluit oor die feestyd en hulle wil nie die geleentheid laat verbygaan om die fontein binnekort opgevul te kry nie, maar die rompslomp van die munisipaliteit se kant is die spreekwoordelike wiel in die speke van die projek.

“Die munisipaliteit het bevestig dat die fontein nooit weer water sal hê nie omdat die pype en waterpunte nie meer by die fontein beskikbaar is nie.

“Die omgewingsvriendelike antwoord bly die vestiging van ’n waterwyse landskapstuin, waarvan die planne deeglik op skrif aan die munisipaliteit se parke-afdeling gekommunikeer is,” sê Geldenhuis.

Die oponthoud word deur die groep as onnodig en ’n apatiese houding geag.

’n Medianavraag is skriftelik aan die munisipale woordvoerder van Moqhaka, Dika Kheswa, oor die toedrag van sake van die projek en die plan van aksie aangevra.

Teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.

Intussen versoek die Oumas dat mense skoon bourommel in die fontein by die terrein gooi, want “ons wil net mooimaak en trots wees.”

Ons reik ’n hand na die munisipaliteit uit om die onooglikheid te verwyder, orde te skep in ons deurmekaar dorp en die gevoel van trots vir ons dorp te herstel. – Annelize Geldenhuis

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.