Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rugby staan uit in veelsydigheid

“Om aan verskillende sportsoorte deel te neem is gesond vir ’n mens se liggaam en siel. Dit help my om stres te verminder en het my van spangees en kameraad­skap geleer.”

Aan die woord is die 18-jarige Jason de Beer.

Jason is ’n veelsydige sportman van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) wat aan rugby, sewesrugby, krieket en atletiek deelneem.

Dié gr. 12-leerling draf al vir die afgelope drie jaar in krieket en rugby vir sy skool se eerste span uit. Hy het Blouskool ook op Fezile Dabi-vlak in atletiek verteenwoor-dig.

Sport is sy passie en buiten dat dit hom liggaamlik en geestelik goed doen, het dit hom meer oor prestasies en teleurstellings geleer, meen hy. Hy sê ook dat hy geleer het om ander mense in ag te neem, soos wanneer besluite op die sportveld geneem moet word.

Boonop is sport vir hom ’n uitlaatklep en dit laat hom ontspan. Hy glo met harde werk en deur toegewyd te wees, sal enigeen die vrugte pluk.

Hy meen wanneer hy moeg en vol sweet is, weet hy dat hy gewoeker het met die talente waarmee God hom geseën het.

Jason het ’n positiewe uitkyk op die lewe. Hy reken hy het nog nooit verloor nie, want hy het óf gewen, óf ’n les geleer.

Hy is dankbaar vir elke sport­afrigter in sy skoolloopbaan wat ’n positiewe invloed op sy lewe gehad het.

Hy sê met groot sekerheid dat die hoogtepunte van sy skolesportloopbaan die tye was dat hy in die onderskeie sportsoorte sy skool se eerstespantrui oor die kop kon trek.

“Dit is ’n besonder trotse gevoel, wat ’n mens nie maklik vir ander kan beskryf nie,” sê hy.

Dit is ook vir hom lekker om tuiswedstryde te wen en die ondersteuning te ervaar wat die Bloues-familie bied.

Dan onthou hy ook toe hy in 2016 in die o.16-plattelandrugbyliga uitgedraf het, en die span nie een van sy 23 wedstryde verloor het nie.

Jason het in gr. O die eerste keer ’n rugbybal hanteer en wou die afgelope 13 jaar nie weer die bal neersit nie.

Hy speel al tien jaar lank krieket en neem vir 12 jaar aan atletiek deel.

Hy het voorheen ook ’n bietjie hokkie gespeel, maar rugby is by uitstek sy gunstelingsportsoort.

Soos alle sportmanne het hy tydens die staat van inperking probeer fiks bly deur ’n oefen­program te volg wat sy afrigters vir hom gegee het.

Sy toekomsplanne sluit in om onderwys te studeer en hy hoop dat hy ook eendag ’n positiewe invloed op leerlinge en sportmanne en -vroue sal hê.

Andersins hoop hy om oorsee te kan gaan boer.

Hy sou graag sy rugbyloopbaan ná skool wou voortsit en eendag ’n afrigter word.

“My rolmodel is die voormalige Nieu-Seelandse rugbyspeler Sonny Bill Williams,” sê Jason.

“Hy het altyd baie respek vir sy teenstanders en spanmaats getoon.

“Williams het in 2015 toe hulle die wêreldbeker gewen het sy goue medalje om ’n jong bewonderaar se nek gehang en sy rugbystewels aan ’n gestremde seun geskenk. Dit bewonder ek.”

Jason hoop soos vele ander matrieks om wel nog dié jaar vir ’n rugby­wedstryd te kan uitdraf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.