Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skilder ‘bevrydend’

“Om te skilder is vir my absoluut ’n emosionele proses, want ek lê ’n deel van myself op die doek vas. Wanneer die eindproduk stelselmatig vorm aanneem, gee dit my ’n bevrydende gevoel,” sê Edith Weideman (54), ’n onderwyser aan die Kroon Primary School.

Die fynbesnaarde Edith is nie net ’n heeltydse onderwyser nie, maar ook predikantsvrou. Sy is met ds. Christo Weideman, leraar van die NG kerk Kroonheuwel-Noord, getroud.

Hoewel skilder vir haar in dié stadium tot ’n stokperdjie beperk is, is dit beslis haar passie. Sy maak wel so tussendeur die skoolhou en haar ander verpligtinge seker dat sy tyd opsysit om haar in kuns uit te leef.

Edith het op 48-jarige ouderdom die eerste keer haar hand aan ’n kwas gewaag.

Sy het altyd geweet dit is iets waarna sy smag en wat sy wil bemeester.

Sy het vir ongeveer drie jaar by Penny Bredenkamp klasse geneem, waarna sy ook by Pieter van Heerden klas geloop het.

Sy werk op doek en verkies olieverf omdat die reuk en tekstuur vir haar baie besonders is.

Edith het verneem dat haar oupagrootjie ’n kunstige man was, wat geskets het, en sy reken dit is moontlik waar haar talent vandaan kom. Hy het destyds ook advertensies aan winkelruite geverf.

Talle ander van haar familielede – Ida Mostert, Leana Strauss, André Karsten en haar tannie Anna Karsten – is ook baie kunstig.

Daardie oomblik wanneer alles in plek begin val terwyl sy skilder, is vir haar ’n gevoel wat sy nie kan beskryf nie. Elke strepie of selfs kolletjie wat sy nader aan die eindproduk is, is vir haar ongelooflik.

“Dit voel of alles in my oorborrel en lig word as ek bykans klaar is met ’n skildery.”

Edith werk aan ’n skildery van haar pa, wat onlangs oorlede is. Buiten dat dit vir haar ’n emosionele reis is, is dit ook vir haar ’n genesende proses.

Sy hou daarvan om mense te skilder, maar is ook baie lief vir natuurtonele, en het al ’n paar ou plaashuise en windpompe geskilder.

“Die geskiedenis agter ou plaashuise raak my hart en siel en daarom is dit vir my lekker om dit te skilder.”

Sy hoop dat haar skilderye se stories van liefde en omgee met mense sal praat.

Edith het in 2016 ’n reeks werke genaamd Wonderwerke vir die kerk geskilder. Sy het agt skilderye in ses maande voltooi en sê dit was moontlik omdat sy net daarop gefokus het.

Sy skilder op aanvraag en meestal vir kennisse, of verkoop van haar eie werk indien iemand belang stel.

Tans word daar ook ’n paar by die GK Art-winkel in die dorp uitgestal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.