SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Skool kry nuwe baadjie

’n Uitreik-aksie van die Northern Free State Care Givers (NFSCG) op Mandeladag (18 Julie) het tot ’n volgende aksie gelei wat 16 kleuters se omstandighede verbeter het.

Toe NFSCG op Mandeladag sop in Koekoe Village, Maokeng, vir 300 tot 400 mense uitgedeel het, het die onderwyser van ’n nabygeleë kleuterskool gevra of die 16 kleuters by dié skool ook sop kan kry.

Felicity Combrinck, voorsitter van NFSCG, het gehoor aan die versoek van die Thato Disabled Day Care Crèche gegee.

Twee dae later het dr. Frances Phooko, Brentpark se NFSCG-bestuurslid wie ’n doktorsgraad in kindersielkunde en -voorligting het, en Cathy Lubbe, ook ’n bestuurslid, die crèche besoek. Hulle het vir die kinders koeldrank, lekkers, sop en broodjies geneem. Foto’s is geneem en NFSCG het besluit om die kleuterskool te help.

Die geboutjie het net ’n vloer van grond gehad en kinders moes op komberse op die grond lê, speel, sit en eet.

“Dit was donker binne met net een venster wat nie kon oopmaak nie. Dit was verskriklik warm en bedompig. Ons wou help en die wiele is aan die rol gesit. Almal het ingespring en die sinkgeboutjie is omskep,” sê Combrinck.

Carel Combrinck, Felicity se ingenieurman wat ’n pensioenaris is, het die planne opgetrek en die nodige beplanning saam met Willie le Roux, oud-bouinspekteur, en Petrus Moletsane, Combrinck se nutsman, gedoen. Hulle het vir ses weke aan Projek Thato gewerk.

Carel het ook vir Flip Beukes vir hulp en kennis nader getrek.

“Hierdie pensioenarisse het met hul kennis ongelooflike werk verrig en hul kennis in die gemeenskap teruggeploeg. Die dag toe die crèche byna klaar gebou was, het Carel besluit die kinders en eienaar moet veilig wees en daar en dan het hy en Willie ’n hek vir die erf, en ook ’n wasgoedlyn, beplan.”

“Van die NFSCG se Lotto-geld, wat bestem is vir opheffingswerk in die township, is aangewend om die skooltjie met korrekte planne oor te bou, en ’n sementvloer met ’n tapyt, ventilasie, stoeltjies, tafeltjies en versierings is ingesluit,” sê Felicity.

Die kleuterskool is geregistreer by die departement van sosiale ontwikkeling, maar kry geen subsidie van dié departement nie. Woensdag (17/10) kon die eienaar van die Thato Disabled Cay Care Crèche, Maria Marumo, die lint tot ’n netjiese, veilige gebou knip.

Naudé-konstruksie, Spring Lights Developments, Keevey Building Supplies, Sticker World, Carel Combrinck as ingenieur, twee arbeiders en die daaglikse besoek van Le Roux by die terrein, het die droom van NFSCG en die crèche bewaarheid.

“Ons glimlag breed oor die positiewe verskil wat ons organisasie in die gemeenskap maak. Met leiding kan die kleuterskool, as geregistreerde instelling by maatskaplike dienste, en met goeie geldbestuur ’n toonbeeld wees van hoe ’n kleuterskool bedryf moet word,” sê Combrinck.

Die projekkoste het nagenoeg R69 000 beloop.

  • Sien foto op bl. 5.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.