Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skool open met gemak

Die Kroonheuwel- Primêre Skool se nuwe kwartaal verloop vlot met al die nuwe reëls en regulasies rondom die hantering van Covid-19.

“Die heropening van ons skool is seker nog nooit vantevore deur soveel beplanning, harde werk en veranderinge voorafgegaan nie,” sê Johan Loubser, hoof.

“Waar die eerste dag van ’n nuwe kwartaal gewoonlik ’n gevoel van opwinding oor al die uitdagings meebring, en die vreugde van leerlinge en kollegas wat mekaar weer sien, was dit hierdie keer vreemd en was almal so effe benoud die eerste rukkie.”

Loubser sê egter dat ’n kind se gees baie sterk is en kinders se vermoë om aan te pas verstommend.

Die kinders het glo in die eerste pouse reeds nuwe speletjies uitgedink wat elkeen binne die toegelate ruimte kon vermaak terwyl die handhawing van sosiale afstand in ag geneem word.

Loubser sê dat om maskers te dra wel ’n uitdaging was, maar dat die kinders en onderwysers vinnig daaraan gewoond geraak het.

“Nou kan juffrou nie sien as ek ’n toffie kou nie,” bieg een karnallie oor sy masker, sê Loubser.

’n Modebewuste meisie in die skool sê die skoolmaskers is “hip”.

“Ons Kronie-maskers is baie gemaklik, en ons haal maklik asem daarmee. Die maskers het ’n voering van nano-silwer wat ’n kiem­dodende werking het.”

Die skool het sy leerlinge toestemming gegee om met gewone en lekker warm klere skool te gaan.

Voor die heropening van die skool het die bestuurspan moeite gedoen om leerlinge voor te berei deur verskeie video’s te maak. Hierdeur is reëlings oor die verloop van ’n skooldag, asook handige wenke oor hoe om al die veranderinge te hanteer, met ouers en leerlinge op die sosiale media gedeel. Die skool glo dat die video’s ’n wenresep was om die angstigheid hok te slaan.

Tot dusver verloop die daaglikse nuwe roetine – van die aanmeldings­prosedure soggens tot huis-toe-gaan-tyd – seepglad. Selfs in verlede week se reën- en bibberweer is almal by die skool geskandeer en is prosedures streng gevolg.

Die skool is trots op sy gr. 7-leerlinge, wat hul volle same­werking gee om die hantering van nuwe uitdagings te vergemaklik.

“Die personeel en beheerliggaam werk hard om die infasering van die gr. 1-, gr. 2-, gr. 3- en gr. 6-klasse en ondersteuningsklasse eersdaags sonder haakplek aan te pak.”

By Kleuterkommando, die skool se kleuterskool, is alles ook agter­mekaar om die gr. O-groep terug te verwelkom.

“Hartlike dank aan ons kreatiewe, passievolle span onderwysers, administratiewe personeel, die terreinbestuurder en werkers wat geen moeite ontsien om te midde van baie moets-en-moenies seker te maak dat ons leerlinge steeds die beste onderrig moontlik ontvang in ’n veilige omgewing.

“Alle eer aan ons Hemelse Vader wat, soos Hy beloof het in Psalm 91, ons altyd onder Sy vleuels sal hou, bewaar en beskerm teen siektes,” sê Loubser.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.