Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Slagoffers kry ’n stem

Sedert Sondag 25 November word die fokus nasionaal op die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders geplaas om bewusmaking van veral gesins­geweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe, asook die aanmelding van vermeende voor­valle, te bevorder.

Die veldtog duur tot Maandag 10 Desember.

Die polisie in Kroonstad het ’n spesialis-eenheid, bekend as die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings (GKS), om misdaad vas te vat en deeglike ondersoek na vermeende voorvalle in Kroonstad, Maokeng, Steynsrus, Viljoenskroon, Vierfontein en Heuningspruit te doen.

AO Lizette Mouton is een van die ondersoekbeamptes van die GKS wat daagliks met die invloed van seksuele misdrywe te doen kry.

“ ’n Seksuele misdryf is enige gedwonge seksuele omgang (seks) waarin die tweede party nie toe­stemming tot omgang verleen het nie. Dit is ook ’n seksuele daad wat met ’n kind jonger as 16 jaar gepleeg word en kindermolestering,” sê Mouton.

Kindermolestering kan onbetaamlike betasting, seksuele omgang, penetrasie met ’n liggaamsdeel of voorwerp en die neem van foto’s en video’s van kinders jonger as 18 jaar, wat ’n seksuele ondertoon het, behels. Laasgenoemde kan materiaal wees waarin kinders naak is, seksuele omgang het of masturbeer (self­bevrediging), of materiaal wat seksuele dade deur en tussen kinders bevorder, sê Mouton.

“As iemand op sosiale netwerke ’n naakfoto van hulself vir jou stuur, is dit ’n seksuele misdryf. Dié kuberteistering kom nie net by kinders voor nie, maar by volwassenes ook.

“Tegnologie is deesdae so gevorderd dat sulke misdadigers makliker opgespoor kan word.”

Ná 30 jaar in die polisiediens wil gesoute ondersoekbeampte Mouton vir veral kinders die versekering gee dat die polisie kinders wil bystaan wat die slagoffer van seksuele misdrywe is. Sy is sedert 2010 by die GKS-eenheid betrokke.

“As ’n kind aan molestering, betasting of materiaal wat hul ongemaklik laat voel, blootgestel word, is dit belangrik dat die kind moet weet dat dit wat met hom of haar gebeur het, nie reg is nie en aangemeld moet word.

“Wanner jy gaan swem en ’n baaibroek aantrek, is dit wat jou baaibroek toemaak, jou private plekke. As iemand daar vat en jou ongemaklik laat voel, is daar gronde vir vervolging.

“As iemand vir ’n kind sê dit wat tussen die kind en iemand anders gebeur, is hul geheim, flikker die gevaarligte. Gaan sê dadelik vir iemand wat jy vertrou, sodat dit aangespreek kan word.”

In die bedieningsgebied van die Kroonstadse GKS is sukses al bereik om oortreders vonnisse op te lê wat kinders so jonk soos vier en vyf jaar gemolesteer het.

Seksuele aanranding word gedefinieer as betasting sonder penetrasie met ’n liggaamsdeel, terwyl verkragting seksuele omgang sonder toestemming met ’n vrou, man of kind is.

“In 90% van verkragtingsake gaan die oortreding met geweld en dreigemente gepaard.”

Hoewel slagoffers aangemoedig word om na vore te kom, word mense gewaarsku om hulle van valse aantygings te weerhou. Iemand wat wil wraak neem deur valse verklarings oor seksuele misdrywe af te lê, kan van meineed aangekla word.

“Die polisie is nie daar om iemand by te kom nie. Ons is daar om geweld teen mense te ondersoek en oortreders aan die pen te laat ry.”

As iemand kennis dra van iemand anders wat seksueel aangerand of gemolesteer word, of van iemand wat pornografiese materiaal vervaardig en versprei, is dit hul burgerlike plig om dit by die polisie aan te meld. Sonder aanmelding kan die owerheid nie misdaad voorkom of ondersoek nie.

Mouton sê minderjariges hoef nie bang te wees dat hulle in die hof voor die vermeende verkragter of molesteerder, of aanranders, sal moet getuig nie. ’n Tussenganger, wat gewoonlik ’n maatskaplike werker is, sal ná deeglike ondersoek getuienis in die hof lewer.

Al is dit hoe vernederend vir ’n slagoffer, moet mediese ondersoek deur ’n dokter in ’n staatsinstelling gedoen word.

  • Lees meer op bl. 2 wat gedoen moet word as ’n persoon ’n slagoffer van vermeende seksuele misdade is.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.