Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sonkrag-wonders laat wiel deur Kroonstad

Met die brandstofprys wat die hoogte in skiet, kan alternatiewe energiebronne, onder meer sonkrag, die antwoord op volhoubare energie vir vervoermiddels word.

In September word die tweejaarlikse Sasol-sonkraguitdaging (SSC), van Pretoria na Stellenbosch, ’n tiende keer deur minstens 11 sonkragmotors aangepak. Die rit duur agt dae lank.

“Die sonkragvoertuie is uiters lig, klein en kan slegs een persoon vervoer,” sê Anzet du Plessis, mediawoordvoerder van die SSC.

“Die ontwerpe, veral dié voertuie wat in die uitdaagklas deelneem, word tydens die ontwerp en toets daarvan volgens lug­dinamika beoordeel. So min as moontlik windweerstand moet in die voertuie se ontwerp ingebou word.”

Die voertuie word in ’n windtonnel getoets om te bepaal watter ontwerp die minste weerstand moontlik sal verseker.

Die voertuie mag geensins met ander metodes aangedryf word as net die son se energie wat benut word om ’n battery te herlaai nie.

Die geselskap vertrek op 21 September uit Pretoria (by die Menlyn Maine) na Sasolburg. Op Saterdag 22 September kan inwoners van Kroonstad die nuutste in sonkragontwerpe op die Hoërskool Kroonstad (Bloues) se terrein besigtig.

“Daar word by skole aangedoen sodat die sonkragwetenskap en -tegnologie aan leerlinge en belangstellendes bekend gestel kan word,” sê Du Plessis.

Die roete wat vanjaar gevolg sal word is van Pretoria na Sasolburg, Kroonstad, Winburg, Bloemfontein, Edenburg, Gariep, Middelburg, Graaff-Reinet, Jansenville, Port Elizabeth, Kareedouw, Sedgefield, Mosselbaai, Swellendam, Bredasdorp en Kaap Agulhas met Stellenbosch as eindpunt.

Du Plessis sê die voertuie kan maklik ’n gemiddelde spoed van 120 km per uur behaal, maar dít is nie die uitdaging nie.

“Die sonkragvoertuie, elk met ’n span van vyf mense, moet poog om soveel as moontlik kilometer van punt A na punt B af te lê.

“Geen ander energiebron as sonkrag mag gebruik word nie.

“Die wegspringtyd is daagliks om 07:00 en die voertuie moet om 17:00 by die volgende punt wees. Die voertuie ry ’n kringroete tussen dorpe en stede om soveel as moontlik kilometer af te lê,” verduidelik Du Plessis.

Elke span het ’n bystandvoertuig wat op die rit voor en agter die sonkragvoertuig ry, met medespanlede en ’n onafhanklike waarnemer. Gesofistikeerde weer­toestelle is op elke span se bystandvoertuig aangebring.

Die bestuurder(s) van elke voertuig beplan ’n strategie. Elke dag se ritte word saans bestudeer en gedokumenteer.

Du Plessis sê met die vorige uitdaagrit in 2017 het ’n Duitse maatskappy wat in sonpanele spesialiseer die navorsing van die Noordwes-Universiteit (NWU) in sy vervaardiging gebruik, wat as ’n deurbraak beskou kan word.

Die wêreld se beste sonkragvoertuig-span is van die Delft-Universiteit in Nuoan, Nederland. Kort op die hakke van die Delft-span is ’n Japanese span van die Tokai-Universiteit. Albei dié spanne gaan aan die SSC deelneem.

In Kroonstad gaan ’n tentedorp by Bloues vir die SSC-deelnemers en -beamptes opgerig word.

Vrywilligers van Think Bike, ’n motor­fietsryers-organisasie, sal hulle by die konvooie aansluit om sigbaarheid en bewustheid op die pad te skep.

Kroonstadters kan op 22 September van 15:30 af die aankoms van die SCC-voertuie bywoon, asook die vertrek op 23 September tussen 07:00 en 07:30.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.