Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stigma van selfdood aangespreek

Selfdood. As die swart hond (depressie) jou byt, klim jy in ’n diep donker gat en jy kan die gedagte koester om ’n einde aan jou lewe te maak.

Wêreldselfdoodvoorkomingsdag is Maandag (10/09) wêreldwyd gehou om toenemende selfdood betyds aan te spreek.

Past. Johnathan Els en sy vrou, Chantalstet , herderspaar van die Volle Evangelie-kerk in Kroonstad, wil ’n hand uitreik na enigeen wat aan depressie ly of angs ervaar.

“Gee die kerk in 2018 regtig om? Ons hoor soveel menings dat depressie ’n keuse is, dat dit van die demone is en dat ’n Christen nie depressief mag wees nie; as jy gered is, sal jy kan bid en die gevoel om jouself te dood, sal weggaan,” sê die egpaar.

Mense wat nie die depressie-siekte verstaan nie, gee voor jy kan slegs positief dink en die depressie sal verdwyn, meen die Else.

“Voorts mag Christene nie terapie ontvang of medikasie gebruik nie.”

’n Verdere wanopvatting is dat dit ’n sonde is om angs te ervaar, sê die Else.

Die soeklig in Kroonstad word op selfdood geplaas nadat gevalle van selfdood in die dorp plaasgevind het, sê Johnathan.

Mense sit in kerke en is te bang om ’n woord te rep oor angs, depressie en selfdoodgedagtes wat hul lewe oorweldig.

“Die kerk moet ’n plek van hoop en liefde vir die wêreld wees vir almal wat Jesus ken, maar ongelukkig word die doek oor depressie gegooi en liefde en hoop waai by die deur uit,” sê die egpaar.

Die Bevrienders, ’n wêreldwye instansie, het statistieke deur die wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bestudeer en daar word geraam dat een miljoen mense jaarliks weens selfdood sterf.

Die syfer verteenwoordig ’n globale mortaliteitsyfer van 16 mense uit 100 000 of een sterfte elke 40 sekondes in die wêreld. Die WGO skat dat dié syfer teen 2020 na een selfdood elke 20 sekondes kan styg, sê Johnathan.

“Ons, as kerk, moet onsself afvra wat Jesus sou doen. Jesus is lief vir die gebrokenes en sondaars.

“Een van die mooiste voorbeelde van Bybelse figure wat deur angs oorweldig is, is Elia. Hy wou doodgaan. Hy het onder ’n bos gaan sit en gebid dat God sy lewe moet neem omdat dit ‘beter vir sy nageslag’ sou wees.

“God was Elia genadig, en die kerk moet ook genade aan lyers van angs en depressie toon.

“Jesus het self gesê dat hy nie vir diegene wat gesond is, gekom het nie, maar vir diegene wat siek is.

“Ons moet mense wat aan dié siekte ly, bystaan, net soos wat ons iemand sal bystaan wat ’n fisieke siekte soos diabetes het.

“Angs is nie net kommer nie en depressie is nie net ’n ‘af’ dag nie.

“Die lyers moet iemand vind met wie hulle kan praat, wat gekwalifiseerd is en kan luister en ’n ingeligte diagnose kan maak.”

Moenie die Bybel aanhaal of vir die lyer sê hy of sy moet net geloof hê nie. Dit is juis hul vashou aan Jesus wat hul staande hou, sê Johnathan.

Jy kan nie weet watter gedagtes en ondervindings ’n depressielyer of bipolêre persoon het, as jy nie self deur die werklikheid van die siekte gekonfronteer word nie, meen hy.

Hy sê verder diegene wat ná selfdood agtergelaat word, moet besef dat dit nie hul skuld is nie.

“In baie gevalle is daar bloot nie tekens nie, omdat die lyer nie sy of haar naasbestaandes met sy of haar lyding wou bemoei nie.’’

Iemand wat selfdood uitvoer, het dalk gedink hy of sy spaar die geliefdes die pyn om in hul lewe te wees.

“Dit is ’n donkerte wat jou oorweldig en jou siel in so ’n mate uitput dat jy daarvan oortuig is dat jy nie meer waardig is om te leef of liefgehê te wees nie.

“Moenie kwaad vir die lyer wees nie. Moenie probeer verstaan waarom nie en ook nie jouself kasty dat dit jou skuld is nie.”

Inteendeel, onthou die afgestorwene soos wat hy of sy was sonder die depressie, maan die egpaar.

Hulle beveel aan dat die naasbestaandes die rouproses volledig deurgaan en met iemand praat oor die mooi herinneringe.

“As ’n vriend(in) nie beskikbaar is nie, vind ’n goeie berader wat jou kan lei om die hartseer te verwerk.”

Die egpaar se raad aan ’n persoon wat selfdoodgedagtes koester, is om iemand te soek wat sal luister en hulle nie sal oordeel nie.

“Herken en erken die donker tye en selfdoodgedagtes.

“Jy is nie mal nie, ’n demoon het jou nie beetgekry nie en jy is op jou sterkste as jy om hulp roep en dit vind.

“God hoor jou smeekgebede en hy bied altyd hoop, liefde en draai nooit sy rug op jou nie.

“Hy dra jou in tye van geluk en hartseer, donker tye.

“Die gedagtes sal verbygaan en as jy hulp gekry het, sal jy sterk genoeg word om die depressie en angs te hanteer en te beveg.”

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (South African De­pression and Anxiety Group) se webtuiste is sadag.org.za.

Mense kan aanlyn met ’n berader in gesprek tree, of ’n oproep maak om dit te doen.

’n Berader is van Maandae tot Sondae van 08:00 tot 20:00 by 011-234-4837 beskikbaar. Die nommer vir hulp rakende selfdood is 080-056-7567 en die 24/7-hulplyn is 080-012-13-14.

Lesers wat pastorale hulp en bystand benodig, kan die Else by 076-533-4642 bel.

“As ons jou nie kan help nie, sal ons jou met iemand in verbinding laat tree wat jou kan bystaan. Reik uit. God het die regte mense naby jou geplaas om jou te help.”

Jy is nie mal nie, ’n demoon het jou nie beetgekry nie en jy is op jou sterkste as jy om hulp roep en dit vind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.