Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Take met oorgawe aangepak

“ ’n Ouma moet kan hekel en koekies bak. Ek kon nooit nie, maar toe vind ek uit hoe en doen dit,” sê Nerine Leonard (56) van Kroonstad.

Sy het haarself daagliks met die gewone take van ’n plaasvrou besig gehou – totdat haar eerste kleinkind gebore is.

Toe dié kleinding twee jaar gelede sy opwagting gemaak het, het Nerine besluit om haar “ouma”-vaardighede te slyp.

“Ek wou iets maak waarmee my kinders en kleinkinders my sal kan onthou.”

Deesdae hekel sy dekens en bak sy koekies – al moes sy eers 54 jaar oud word voordat sy dié versteekte talente ontdek.

“Die koekies bak was heel toevallig. Ons was op soek na koekies met ’n harde versiersel vir my dogter Trudie se ooievaarsteeparty, maar mense het astronomiese bedrae vir ’n enkele koekie gevra. Net daar het ek besluit: Basta met dit, ek gaan dit sélf bak.”

Nou is hekel en koekies bak van haar gunsteling-stokperdjies. Sy beoefen ook graag pottebakkery.

Nerine het aan die Hoërskool Kroonstad gematrikuleer en ballet aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.

Sy is reeds 36 jaar met John Leonard getroud, en hulle boer op die plaas Kristalkop buite Kroonstad. Die egpaar het vier dogters.

“Ek het die oulikste, mooiste, liefste en talentvolste dogters op aarde. Olga is ’n musikant, Trudie ’n ingenieur en Inge ’n haarkapper. Heléne is in haar finale jaar aan die Universiteit van Stellenbosch en beoog ’n na-graadse kwalifikasie in filosofie.”

Nerine en John het twee kleinkinders: Roelof (2) en die nuweling in die familie, Niene (ses maande). Albei is Trudie se kinders.

In die grendeltyd was die familie nie almal saam nie.

“Ons het maar swaar getrek en almal baie gemis. Ek het my ma, Olga (94), vir haar eie beskerming in Maart laas gesien, en dit breek my hart.

“Tog het ons onsself met musiekkonserte, boeresportkompetisies, kroket, kaartspel en skyfskiet vermaak. Ons het elke aand lang ente gaan stap en heerlik gelag.”

Nerine is op haar gelukkigste by haar man, kinders en kleinkinders – en haar twee langhaarworshonde, Fritz en Gretl, en haar kat, Felix.

Sy reken vroue vervul talle rolle.

“Ons is eggenote, ma’s en oumas. Party is leiers en broodwinners, ander is volgers. Maar altyd is ons planmakers, ondersteuners en raadgewers.

“Hierdie Vrouemaand het ek een ding op die hart vir vroue: Wat ook al jou gawes en talente is, doen dit met liefde en oorgawe. Of jy nou aan die stuur van ’n maatskappy staan of ’n tuisblymamma is – doen dit met oorgawe.”

  • Nerine is die dogter van wyle dr. Piet Rademan van Kroonstad.

Hy het gehelp om Nerine, John en drie van hul vier kinders in die lewe te bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.