Nadat die koronavirus verlede week tot wêreldwye noodtoestand verklaar is, is panieksaaiers weer baie bedrywig op die sosiale media.
Fopnuus, soos dat mense reeds in Suid-Afrika vir die virus behandeling ontvang, het soos ’n veldbrand op sosiale media-platforms versprei.
Elke Jan Rap en sy maat met ’n selfoon in die hand reken dat hulle ’n joernalis is. Só versprei ongegronde stories baie maklik op die sosiale media.
Mense manipuleer selfs ou nuus en foto’s om fopnuus te versprei.
Wees dus versigtig voordat jy nuus aanstuur en mense onnodig op hol jaag.
Wanneer jy oor enige nuus twyfel, toets dit eers aan ’n betroubare bron.
As geen geloofwaardige media-instansies daaroor berig nie, vind beriggewing deur nie, is dit waarskynlik fopnuus.
Fopnuus veroorsaak net chaos, veral as dit oor lewensgevaarlike situasies gaan.
Ja, die koronavirus is ’n lewensbedreigende virus. Dit is ook so dat die virus reeds lewens geëis het.
Volgens medici en kenners kan die virus egter met die regte mediese behandeling bekamp word.
Mense wat dus die virus opdoen en onmiddellik behandel word, kán gesond word.
Daarom moet mense feite bevestig voordat onnodige paniek op die sosiale media gesaai word.
Fopnuus is ’n fees vir die oningeligtes.
Wees ingelig voordat jy waag om ’n mening te lug.
Wees verantwoordelik sodat fopnuus die hok geslaan kan word.