Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Twis oor skole duur voort

Druk word uit verskeie oorde op Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, geplaas om skole tydens die kruin van die Covid-19-uitbreking te sluit, maar talle rolspelers stem nie saam nie.

Motshekga het Vrydag (17/07) verder met onderwysvakbonde hieroor vergader.

Sy sal ’n voorlegging aan die kabinet doen om ’n finale besluit oor skole te neem.

Twee organisasies wat nie ten gunste is van die sluiting van skole nie, is die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Menseregtekommissie (MRK). Onderwysvakbonde soos Sadou en Naptosa meen weer skole moet sluit.

Fedsas het Donderdag (16/07) sy standpunt aan Motshekga oorgedra.

Paul Colditz, Fedsas se uitvoerende hoof, sê dit gaan oor meer as onderrig.

“Dit gaan ook oor voeding, maatskaplike ondersteuning, sielkundige letsels wat deur afsondering en afstand gelos word en ouers wat moet werk en nie ’n ander heenkome vir hul kinders het nie.”

Hy meen sluiting sal “katastrofies” vir skole se finansies en beheerliggaamsposte wees.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand (15/07) gesê die regering sal die situasie oorweeg en dit met die mediese advieskomitee bespreek. Hy het die waarskuwing van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) herhaal oor die heropening van skole wanneer die verspreiding van die virus styg.

Die MRK steun die standpunt van die Verenigde Nasies se kinderfonds dat kinders moet terugkeer skool toe omdat hulle skade ly as hulle nie by die skool is nie. Verskeie aspekte is oorweeg, waaronder die feit dat leerlinge teen einde Julie al 20% tot 50% skooldae verloor het.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van Naptosa, sê hy stem saam dat skole die beste plek vir kinders is – maar daar is uitsonderings.

“Ons vra nie skole moet summier gesluit word nie, maar dat hulle tydens die hoogtepunt van die pandemie sluit.”

Hy sê die lae bywoningsyfer en voortdurende sluitings van skole is ontwrigtend. Colditz meen egter onderrig vind steeds plaas.

“As jy in 30 dae drie dae se onderbrekings gehad het, het jy steeds 27 dae onderrig gehad.”

Hy sê as die skooljaar afgeskryf word, kan dit “letterlik die land tot stilstand bring”.

Manuel sê die moontlikheid dat die skooljaar afgeskryf gaan word, is bykans nul.

“Daar is te veel wat daarvan afhang. Daar is 1 tot 2 miljoen kinders wat wag om die stelsel binne te kom en daar is 800 000 wat wag om die stelsel te verlaat.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie lê binnekort die uitslag van ’n meningsopname onder sy lede aan sy dagbestuur voor voordat ’n besluit oor die vakbond se posisie geneem word. Altesaam 67,1 % van 23 603 lede wat deelgeneem het, het aangedui skole moet sluit. – Eugenie Gregan

Sluiting van skole sal ’n domino-uitwerking hê, sê dr. Francois Naudé, ’n onderwyskonsultant en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Johannesburg se sentrum vir onderwyspraktyknavorsing.

“In die private sektor gaan ons poste verloor, die skole gaan toemaak. As die ouers nie skoolgeld betaal nie, gaan private skole hul onderwysers verloor.

“As daardie skole toemaak, skuif die leerlinge terug na die openbare sektor, wat gaan veroorsaak dat klasse groter raak en onderwysers onder groter druk geplaas word.”

Die jaar is nie verlore nie.

“Pleks dat die akademiese jaar in Desember klaarmaak, skuif dit net aan, eerder as om dit te probeer oordoen,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.