Dié week het Kroonnuus net weer besef hoe ongelooflik mense met gestremdhede in die samelewing kan aanpas.
Ongeag uitdagings ding hulle selfs op die sportveld mee.
Só het die Protea-krieketspan vir dowes sy vernuftigheid hier in Kroonstad kom wys en sy eerste wedstryd teen Indië in ’n T20-krieketreeks gewen.
Buitengewoon goeie kommunikasie is van uiterste belang ten tyde van ’n wedstryd vir dowe spelers, en dit onderskei krieket vir dowe spelers van gewone krieket.
Dowe spelers mag nie van gehoorapparate gebruik maak nie en moet streng met handgebare kommunikeer.
Albei spanne wat in Kroonstad gespeel het, het dié metode uitstekend bemeester en Kroonstadters kon na krieketspel van ’n hoogstaande gehalte kyk.
Die lewenslustigheid van die dowe spelers was aansteeklik en ’n bewys dat fisieke, verstandelike, intellektuele of sensoriese gestremdhede hulle nie ontmoedig nie.
Ons kan so vinnig kla en teneergedruk raak wanneer die lewe ons rondgooi, maar nie aldag besef hoeveel ons het om voor dankbaar te wees nie.
Mag die goeie gesindheid van die nasionale krieketspan vir dowes ons so beïnvloed, dat ons onthou ons het eintlik min om oor te kla.