Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vaardige bejaarde volg steeds sy passie

Dr. Frikkie Rademan (83) is waarskynlik die oudste tandarts in die omgewing en hy sit steeds daagliks skouer aan die wiel omdat hy nie van stilsit hou nie.

Rademan praktiseer sedert 1964 as ’n tandarts in Kroonstad.

Hy is ’n boorling van Vredefort en het sy hoërskoolloopbaan as hoofseun aan Grey-kollege in Bloemfontein voltooi.

Ná sy tandheelkunde-studies aan die Universiteit van die Witwatersrand het hy vir twee jaar in Londen gewoon en gewerk.

In 1964 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en sy eerste praktyk in Kroonstad geopen. Dié eerste praktyk was in Cross-straat en ná twee jaar is dit na Oranjestraat verskuif waar hy steeds praktiseer.

“Ek is dankbaar dat ek van die begin af vir myself kon werk. Ek dink dit is juis omdat ek vir myself kon werk dat ek my werk vreeslik geniet en ná soveel jare is ’n mens se vaardigheid op sy toppunt,” sê Rademan.

Behalwe dat hy hom in sy beroep as tandarts kon uitleef, het hy ook tussendeur op sy plaas buite Kroonstad geboer. Die rustigheid van die natuur lê hom na aan die hart.

Omdat hy sy passie kon uitleef was sy werk vir hom eerder ’n stokperdjie en hy is gaande oor die kunstigheid wat sy werk vereis.

Die bou van krone en brûe vir pasiënte is altyd vir hom ’n heerlike uitdaging.

Die eindresultaat van sy handewerk en hoe hy pasiënte kan help, maak sy werk vir hom bevredigend.

Sy jarelange pasiënte glo in sy vermoë as tandarts. Hy het selfs pasiënte vanaf omliggende dorpe en stede, soos Wesselsbron, Bloemfontein en selfs Johannesburg.

Rademan se getroue staatmakers en assistente is Louise Barnard en Jemina Manare.

Barnard werk al 27 jaar vir Rademan en Manare 34 jaar.

Albei dié assistente is dit eens dat Rademan die beste werkgewer is en dat hulle as ’n gedugte span saamwerk.

Rademan was met Janet, wat in 2016 oorlede is, getroud. Uit dié huwelik is ses kinders gebore.

Net een van sy kinders – sy tweede oudste, Charleen – het in haar pa se voetspore gevolg. Sy is ’n tandarts in Bloubergstrand en boonop ’n gekwalifiseerde siviele ingenieur.

Al vyf sy ander kinders is ook in professionele beroepe: Jeanine is die besturende direkteur van ’n advertensie-agentskap, Frikkie is ’n chirurg, Johan is ’n internasionale raadgewende hoof, Pieter is die hoof van IT by ’n batebestuursmaatskappy en Naude is ’n hoof uitvoerende beampte.

Rademan sê hy het vir bykans 45 jaar kinders op universiteit gehad, en dit was dus vir hom onmoontlik om vroeër af te skaal.

Hy vat dit egter nou rustiger en werk deesdae net halfdag.

Rademan lewer boonop drie dae per week sy dienste by die Boitomelo-hospitaal in Kroonstad, en sien pasiënte die res van die week by sy praktyk.

Rademan glo dat ’n mens se brein aktief moet bly. Hy sê dat dit die rede is hoekom hy nog op en aan die gang is. Omdat hy sy passie uitleef is dit nie vir hom moeite om soggens op te staan en die praktyk oop te sluit nie.

Rademan is oortuig dat hy nooit sal aftree nie, want hy sal nie weet wat om met homself te doen nie.

“Solank ek nog pasiënte het wat graag van my dienste gebruik maak en hulp soek, sal ek help waar ek kan,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.