Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verbintenis vang jou onkant

Ek lê laataand in my bed in Toowoomba in Queensland, Australië. Dit is doodstil in ons leënes-huis en ek tel my oorfone op. Ek kies elke aand in die donker op Spotify ’n gunstelingliedjie voordat ek aan die slaap raak.

’n Ligte vibrasie op my foon verdoof die musiekklanke wanneer ’n boodskap deurkom op my sielkundepraktyk se e-pos. Ek lees:

Beste James

Ek is getroud met my geliefde *Jenelle en ons het ’n dogtertjie wat vier jaar oud is. Jy het my vrou 13 jaar gelede as kliënt gesien in Suid-Afrika. Sy was toe net sestien jaar oud. Sy sukkel tans en het intussen met ’n terapeut gepraat sedert jy weg is, maar kon nie ’n konneksie voel nie. Met Covid-19 raak alles elektronies. Is jy nie maar bereid om met haar te Skype nie?

Ek soek die blou antwoordknoppie en begin tik op die skerm:

Beste *Andrew

Jou woorde raak my diep . . .

Dit is 08:00 in Suid-Afrika wanneer ek die belknoppie op my foon druk. Jenelle, wat op my foonskerm verskyn, het intussen in ’n jong vrou ontluik.

“Waar’s jou skooljurk,” vra ek vir haar.

Sy glimlag warm.

Ek sê: “Kom ek wys jou waar jy sit. Kyk, die mure is geel, net soos in Kloof.”

“Jou kinders is seker al groot,” vra sy belangstellend, verwysende na die foto’s neffens my praktykstoel van my breed-laggende seuns van ’n tyd terug.

“Hulle is jong volwassenes. Soos jy.”

Sy begin my ’n oorskou te gee van haar pad die afgelope 13 jaar. Sy bly vir ’n oomblik stil.

“Ek’s so bekommerd ek maak my dogtertjie seer,” sê sy terwyl trane in haar oë opwel.

Dit is hoekom ek nie van foonskerms hou nie, sê ek, terwyl ek my boks met sneesdoekies optel en vir haar wys. Sy tel ’n rol toiletpapier op en lag.

“Kyk, ek het baie gebring.”

Ek verstaan iets van Jenelle se kommer. Ek weet dat my lewenslittekens neerslag in my kinders se gemoedere gevind het. Tog weet ek dat my bedoeling altyd goed was.

Min mense het die voorneme om ander seer te maak. Ware deernis begin by onsself en versprei dan mildelik na ander. Eers wanneer ons die mooi-malsheid van ons geteisterde koppe omarm, kan persoonlike groei volg.

Sy vertel my dat hulle die vorms om na Australië te immigreer, ingedien het.

Ek dink, “Aus, die land van melk en heuning, waarheen ek meer as ’n dekade gelede verhuis het”.

Tog, in my sielkundepraktyk het ek ’n swetterjoel stories gehoor van hoe ons bekafte natuur my mense hier genadeloos aan die stertkant van die aarde piets.

Ons het droogtes. Dan, met tye giet moederaarde reën oor ons koppe so asof sy askies sê vir haar wispelturigheid en die lyding hier, maar sy kan haarself nie altyd keer nie en haar trane droog nie op nie. So, wanneer ek die kinders wat my praktyk besoek vir ’n uitstappie vat, staan ons vir ’n oomblik stil op die heuwel se uitkykpunt. Ons kyk na die vallei in die verte na waar die ma nie haar kind se hand in die bruin, malende vloedwatermassa kon gryp nie.

Ek begin met Jenelle afsluit. Ek skraap my lêers bymekaar en in die stilte van my kantoor wonder ek vir ’n oomblik wat ’n konneksie is.

Dit is veel dieper as die romantiese betekenis wat ons so dikwels daaraan gee en nie so willekeurig soos ’n bedoeling nie. Dit is ontasbaar, amper soos ’n virus, maar anders.

Dit diskrimineer wel, en teen die tyd dat jy ’n konneksie met ’n ander mens besef, het dit lankal reeds in jou krop geblom.

Oud-Kroonstadter en sielkundige James Scott woon en werk al geruime tyd in Australië. Hy deel ’n ervaring oor die aan­sluiting wat mense by mekaar kan vind, te midde van die Covid-19-pandemie wat mense so verwyderd van mekaar laat voel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kroon Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.