Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skoletrots soos min
DIAMANTVELD se skoolgebou. Foto: Emile Hendricks

AKADEMIE, sportmanskap, waardes en leerlinge gaan hand aan hand by die Hoërskool Diamantveld.

Die akademiese voortreflikheid van die skool word jaarliks bewys wanneer die matriekuitslae bekend gemaak word.

Die waardes wat as ononderhandelbaar beskou word, is dissipline, akademiese onderrig van gehalte, ’n gesonde klem op sportdeelname, liefde vir eie kultuur, en Diamantveld as een groot huisgesin.

Onder sy prestasies in 2014 tel drie leerlinge met agt vakonderskeidings in matriek (uit net vier leerlinge in die hele Noord-Kaap wat dié prestasie kon behaal), drie leerlinge met sewe onderskeidings elk, en nege leerlinge wat ’n A-gemiddeld behaal het.

In 2015 het die skool reeds ’n rits prestasies op sport- en kultuurgebied opgelewer, soos ’n derde agtereenvolgende sege op die Top20-atletiekbyeenkoms, die eerste rugbyspan se gelykopuitslag teen die magtige Grey-kollege, en talle individuele uitblinkers.

Mareth Hugo se wens vir die skool soos gestel toe sy as hoof oorgeneem het, is ook ’n beskrywing van die afgelope 80 jaar sedert die skool se stigting: “Mag die Hoërskool Diamantveld bekend staan as ’n skool met integ­riteit wat getrou bly aan sy onverganklike waardes en dit ondubbelsinnig leer en leef.”

Die skool het op 28 Januarie 1935 amptelik sy deure geopen in wat voorheen die koshuis van die Kimberley Teachers’ Training College was. Dié kollege het vyf jaar tevore gesluit. Die stigting van die skool het gekom ná ’n stryd van byna twee dekades om ’n Afrikaanse hoërskool in die stad te kry.

Die Afrikaansmedium-Hoërskool Kimberley, soos die skool eers bekend gestaan het, het met 51 leerlinge in st. 7 en st. 8 en drie personeellede begin. Twee jaar later het die leerlingtal reeds op 178 gestaan. In 1936 is die skool se naam na Diamantveld verander. Die groeiende leerlingtal het meegebring dat daar ná ’n paar jaar oorgetrek is na die gebou van die destydse Belgravia-skool, ’n Engelse laerskool, wat na Dutoitspanweg verskuif het.

Dié gebou is oor die jare heen uitgebrei tot die sierlike gebouekompleks wat die skool nou huisves. Die oorspronklike koshuisgebou is tot in 1970 as koshuis gebruik, toe die J.P. Auret-koshuis langsaan gebou is. Die ou koshuis is in 1978 gesloop. Die tennisbane is nou op dié terrein.

IN sy 80-jaar-bestaan het die skool net sewe skoolhoofde gehad.

Hulle is dr. J.F. O’Grady (1935-’60), dr. S.M. Cerff (1962-’69), J.P. Spangenberg (1969-’74), dr. Michau Heyns (1975-’79), Jan Auret (1980-’96), Johan du Toit (1997 tot 2012) en die eerste vrou aan die stuur van sake, Mareth Hugo (2013 tot nou)

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.