Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Augrabies, meer as ’n groot geraas

Dit gebeur elke paar jaar dat die Oranjerivier in volle vloed afkom en die Augrabies-waterval – die naam afkomstig van die Namawoord “aukoerebis” wat “plek van groot geraas” beteken – sy regmatige plek as een van die Noord-Kaap se gewildste toeriste-attraksies inneem.

Vloed of te nie is die hoofwaterval wat 56 m na benede stort, sowel as die lang ravyn wat deur eeue heen deur die magtige Oranjerivier uit die granietrots gekerf is, deurentyd ’n indrukwekkende natuurverskynsel om te aanskou, ongeag watter tyd van die jaar.

Daar is egter soveel meer aan die Augrabies-waterval- Nasionale Park as net die bekende Augrabies-watervalle, wat somtyds sterk vloei en ander kere nie so sterk nie.

Volgens Matthys Burger, ’n veldgids by die Augrabieswaterval- Nasionale Park, gebruik besoekers dikwels dié park as ’n oorslaapplek op pad na die gewilde, maar verafgeleë Kgalagadi-oorgrenspark en raak hulle só in vervoering met dit wat hulle hier te siene kry dat hulle op die ingewing van die oomblik besluit om ’n dag of twee langer te bly.

“Dit is ’n droë en harde plek, maar ook mooi op sy eie manier,” vertel Burger.

Soos Pieter van der Walt dit raak opsom in sy boek Augrabies Weelde, is dit ’n plek van groot geraas in ’n omringende paradys van stilte. Hierdie droë en rotsagtige paradys van 55 000 ha aan weerskante van die Oranjerivier bevat ook ’n magdom plant- en dierspesies wat uniek aan die gebied is.

Die kleurvolle mannetjies Augrabies-platakkedis met sy helderblou-en-oranje skubbe is een van die skaars en unieke reptielspesies wat ’n besoeker hier aantref. Die rotsagtige landskap bied ’n magdom skuilplekke vir rotsspesialiste soos dié om in klein skeurtjies te oorleef.

Staproetes soos die Klipspringer-wandelpad (40 km) en die veel korter Dassie-wandelpad (5 km) in die park is vernoem na die interessante dierspesies wat die rotse en klipvelde om die Augrabies-waterval hul tuiste noem.

Dan is daar ook die kokerboom, daardie alombekende plantsimbool van die westelike klipvelde wat geen fotograaf kan weerstaan nie.

Geologies gesproke is die park ook ’n interessante plek om te besoek. Benewens die indrukwekkende kloof is daar talle majestueuse rotsformasies met skilderagtige en beskrywende name soos Maanrots, Ararat en Eggohoek om te besoek.

As ’n mens die natuurprag van die park in sy volle glorie wil ervaar (en genoeg geld het) móét jy eenvoudig ’n aand onder die sterre in die luukse Gorge Cottage op die kranse bo die Oranjekom-ravyn in die bewaringsgebied deurbring.

Dié selfsorgeenheid vir twee is onder die uitkykpunt by Oranjekom gebou, waar besoekers die ravyn met al sy wonderprag kan besigtig.

Dit bied besoekers die geleentheid om letterlik met deure en vensters oop te slaap en te sien hoe die son oor die aarde sak en weer verrys. Dit is nou as jy nie bang is vir die trop bobbejane wat gereeld daar verbybeweeg of ogies wat in die donker glinster nie.

Die Gorge Cottage is gebou omdat die hek na die veldroetes om 19:00 sluit en besoekers voorheen nooit werklik die prag en rustigheid van ’n aand hier onder die sterrehemel kon benut nie.

  • As jy die park op ’n skoenveterbegroting wil ervaar, bied die 60 selfsorgeenhede naby die hoofwaterval ’n bekostigbare alternatief. Die Augrabieswaterval- Nasionale Park is op 5 Augustus 1966 amptelik by die staat se natuurbewaringsprogram ingelyf.) Besoek www.sanparks.org vir meer inligting.

Die Augrabieswaterval-
Nasionale Park is ’n droë en harde plek, maar met ’n unieke mooi aantrekkingskrag, het Christiaan Cloete op ’n onlangse besoek uitgevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.