Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beheer uitdagings
Covid-19, die regulasies en die inperking veroorsaak ’n uitsigloosheid by talle. Kenners meen daar is maniere hoe ’n mens kan aanpas om die uitsig en die horison raak te sien, soos hier by Die Vallei van Verlatenheid buite Graaff-Reinet. Foto: Helena Barnard

“Hou soveel as moontlik verhoudinge gesond en reik uit na familie en vriende. Weet van hierdie situasie: This too shall pass.

So sê Ronél Groenewald, sielkundige van Kimberley oor die impak van die inperking en die Covid-19 pandemie op mense se geestesgesondheid.

“Ons kan nie in vrees leef nie; dit was nog nooit ons manier van leef nie. Dit is nou die tyd om staat te maak op die netwerke wat jy in jou lewe opgebou het,” sê sy.

Rebelse gevoelens

Groenewald sê van die Covid-19 regulasies laat grootmense voel dat hulle soos kinders voorgesê word en dat eie intellek nie raakgesien word nie.

“Dit bring konflik en rebelse gevoelens wat veroorsaak dat Jan Publiek nie na voorskrifte wil luister nie,” sê sy.

Van die regulasies veroorsaak gebroke verhoudings terwyl samesyn met familie en vriende ongelooflik belangrik vir ’n samehorige gevoel is.

“Mense moet nou via telefoon kommunikeer. Baie misverstande ontstaan uit ’n SMS of WhatsApp omdat geen nuanses en emosies in die teksboodskappe ingebou kan word nie,” sê sy.

Boonop lei die inperking na die deurmekaarkrap van roetine en struktuur, wat albei boustene vir goeie geestesgesondheid is.

So ook moet kinders met vriende kan sosialiseer, sê Groenewald. Sy sê kinders deel eerder ’n slegte ervaring met vriende en dit is by vriende waar hulle aanvaarding en ’n gevoel van “behoort” ervaar. Weens dié rede is daar ook in Kimberley ’n toename in kinderdepressie.

Boonop is kinders baie bekommerd oor hul akademiese groei, veral gr. 11- en gr. 12-leerlinge wat hulle besef hul punte moet ’n weg na ’n tersiêre instelling baan.

Nuwe uitdagings

Met tersiêre instellings wat meestal aanlyn funksioneer, loop studente die studentelewe mis.

“Die onafhanklikheid wat jong mense ervaar deur die huis te verlaat en by ’n tersiêre instelling hul eie potjie te krap, is ’n baie belangrike deel van ontwikkeling.

“Nou is hulle terug in die ouerhuis en moet weer leer om ouers se reëls te aanvaar nadat hulle op eie oordeel vir lank opgetree het,” sê Groenewald.

Om aanlyn skool te gaan, het ook ’n groot impak op leerlinge se sosialiseringsvaardighede.

“Soos geen sport nie – ’n kind kan nie in die eerste span speel of op toere gaan nie, of leer om te aanvaar as hy nie die span gehaal het nie. Onderwysers kry nie die geleentheid om hul persoonlike stempel op die leerlinge deur af te druk nie.”

Groenewald sê vir volwassenes is dit uitdagend om van die huis te werk met nuwe roetines, terwyl die skoolgaande kinders boonop nie in die skool is nie.

“ ’n Groot hoeveelheid besighede het ook toegemaak of werkers verminder. Een mens wat sy werk verloor, beïnvloed agt persone.”

Annetjie Twigge, ’n maatskaplike werker in ’n privaatpraktyk in Kimberley, sê dit is vir baie ’n uitdaging omdat hulle nie geliefdes wat siek is, kan besoek nie.

“Siekes of verswaktes het die fisieke teenwoordigheid en aanraking van geliefdes nodig. Omdat geen besoekers toegelaat word nie, voel die pasiënt meer broos en die verlange vertraag soms die herstelproses,” sê Twigge.

Beheer

“Ons het geen beheer oor Covid-19 nie, maar ons het wel beheer oor hoe ons ons omstandighede gaan hanteer,” sê Groenewald. “Reik uit na familie en vriende. Jou dokter kan jou verwys na mense wat jou kan raadgee en ondersteun as jy depressief of angstig raak.”

Twigge sê die met geliefdes in ’n hospitaal moet planne maak om spesiale boodskappe na ’n pasiënt te stuur; of ’n pakkie, foto, blom of tekening van kinders te laat aflewer, indien toegelaat word.

“Laai genoeg data op die pasiënt se foon en doen video-oproepe om mekaar te sien,” stel sy voor. Twigge stel voor om so min as moontlik slegte nuus aan die pasiënt deur te gee.

“Motiveer hulle deur te sê dat geliefdes uitsien om hulle by die huis terug te hê en wat hulle gaan doen met ontslag. Vra hulle om vir dié rede nie moed te verloor nie en met die personeel of terapeute saam te werk om so vinnig as moontlik te herstel,” sê Twigge.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.