
Stef Burger en sy seun, Cobus, bestudeer die wolke op hul plaas in die middel van die Boesmanland om te kyk of hulle opvolgreën te wagte kan wees. Foto: Anné van Niekerk
Die mense van Granaatboskolk in die hart van die dorre Boesmanland het ná verlede week se reën oë opgerig en begin hoop dat die droogte in dié stuk van die Noord-Kaap ná 14 jaar gebreek is.
“Dis Genadereën,” sê Stef Burger van die plaas T’Boop Noord.
Hy en sy buurmanne wat om die plaas Granaatboskolk (eens ’n poskantoor) boer, gaan reeds meer as tien jaar lank onder ’n knellende droogte gebuk.
Burger het op Woensdag 13 Januarie 16 mm reën gehad, en Donderdag (14/01) 1,5 mm.
“Ek was verheug oor die reën wat Woensdagmiddag op ons werf geval het. In 14 jaar het ons nooit so baie op een slag gehad nie,” sê hy.
“Die aarde is só dor en dors dat daar Donderdagoggend geen teken meer van die water was nie. Alles was ingesuig. Dit is genoeg om lewe aan die droë bossie- en graswortels te gee, maar ons benodig opvolgreën vir volgehoue plantegroei. Maar ons het hoop, want die reënbuie kruip al hoe nader. Eers was dit Upington, toe Kakamas, Kenhardt en Pofadder. Dalk is dit nou ons beurt.”
Woensdag se reënbui het al vroegdag, voor 11:00, opgesteek en voor middagete begin uitsak.
“Toe staan die stof darem dik soos ek en my seun, Cobus, agter die buie en na ’n hoë bult gejaag het om te kyk waar dit oral reën. Teen 17:00 was dit oor. Vir ’n slag was die westewind stil wat gewoonlik die reën doodmaak, sodat die noordoostewind die reëntjies nader kon bring. Lekker sagte reën.”
Hy sê dit reën steeds net in kolle.
“Die wolke is nie dik saamgepak nie; hulle het nog nie drif nie. Ons kan net op opvolgreën hoop. Dit lyk darem belowend.”
Dié gebied wat in die somerreënvalstreek val, is sowat 70 km weg van die winterreënvalstreek.
André Nel, Burger se buurman wat al vroeër in die week reën gehad het, sê hy was bly vir die blou wolkbank wat hy Woensdag oor Burger se plaas sien hang het.
“Ek het ook drie keer die afgelope week reën gehad; eers 9 mm, toe 4 mm en Woensdag het 3 mm geval. ’n Totaal van 20 mm. Dit was mooi weer. Ons byt nog vas vir meer.
“Vroeër jare het ons dié tyd van die jaar nie reën gesien nie. Ons kry soms druppels in April, maar nooit genoeg sodat die veld uitstoot nie.”