Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bystand tem angs

Die feestydperk wat voorlê en die gedagte aan verpligtinge vroeg in volgende jaar – soos die betaling van skool- en koshuisgeld – laat Noord-Kaapse boere en diegene rondom hulle voel dat ’n doodloopstraat bereik is.

Vir dié rede is ’n noodnommer vir elkeen wat in die knellende greep van die droogte vasgevang is, in werking gestel. Dié nommer kan 24 uur van die dag deur boere, hul gesins- en familielede, werkers en húl gesinslede geskakel word.

Benewens gratis praktiese raad, bied gekwalifiseerde beraders emosionele bystand en wys hulle die roete na humanitêre hulp.

“By Caritas-gemeenskapsfokus het ons van die droogte geweet. Dit was soos ’n klok wat véraf lui, nie op die voorgrond nie.”

So sê Estie Botha, bestuurder van die Caritas-terapiesentrum. Sy het op 20 November, as deel van die ad hoc-taakspan vir gemeenskapsversorging, die ring van Carnarvon saam met die Noord-Kaapse sinode besoek.

“Die verskroeide landskap en totale niks, die afwesigheid van diere, verhale van amperse-nie-oorlewing, die hoop-teen-alle-hoop dat die reën sal kom, vragte veevoer wat van oral aangery word, ’n sleepwa vol genade-pakkies vir vroue, die half-verwese angs op die gesigte van boere het my stil gemaak – so stil dat die veraf klok ’n genadelose gebeier geword het. Ek het geweet Caritas móét help,” vertel sy.

Botha sê die Caritas-terapiesentrum is deel van ’n taakspan wat na die emosionele welstand van die boerderygemeenskap omsien. Caritas identifiseer ook saam met die taakspan gemeentelede om as trauma-vrywilligers op te lei.

Die NG kerk se Keimoes- en Neilersdriftgemeente het ’n studiefonds begin waaruit vanjaar R1 miljoen se agterstallige geld vir tersiêre onderrig namens diegene in die droogtegebiede betaal is. Die taakspan gaan geld insamel en betalings aan dié fonds doen om alle skool- en universiteits­verwante verpligtinge uit een fonds te administreer.

Enigeen wat betrokke wil raak, kan ds. Kobus van Tonder (voorsitter van die taakspan) by 076-530-4028 bel of ’n e-pos na kobusvt04@ gmail.com stuur.

  • Die 24-uur-noodnommer is 083-415-1484. ’n WhatsApp-boodskap of SMS kan ook gestuur word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.