Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dawid’ moedig in stryd

Rugbyspanne van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (Affies) het eenvoudig ’n manier om vrees onder spanne van oor die land heen in te boesem.

Veral Affies se eerste span.

Dié Pretorianers het oor die jare heen ’n reputasie as een van die land se toprugbyskole opgebou – en met goeie reg.

Sedert 1996 het dié skool al sewe Springbokke opgelewer.

Tog het die skool se vreesaanjaende reputasie nie spelers van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley gekeer om moedig terug te veg toe “Dawid” op die rugbyveld teen “Goliat” te staan gekom het nie.

Toe Diamantveld se eerste span Saterdagmiddag (09/03) by Diamantveld se A-veld teen Affies se eerste span opgedraf het, het dit vir ’n paar minute in die eerste helfte gelyk asof die Bloues die manne van Pretoria voor ’n ondersteunende tuisskare ’n onverwagse loesing sou gee.

Die Diamantvelders het immers Saterdag die eerste bloed in ’n spanningsvolle wedstryd getrek.

Binne die eerste drie minute van die wedstryd was daar die strafskop deur Diamantveld se skopper Morne Matthewson, wat vir die tuisspan die eerste drie punte van die wedstryd besorg het.

Affies was egter gou om die bordjies te verhang, en dit was nie lank voor ’n drie deur Affies se Jacques-Lois du Toit en ’n verdoeling deur Dieter Crafford die Pretorianers met 7 – 3 laat voorloop het nie.

Met Diamantveld vier punte agter het Stefan Swart ’n gaping gesien en regdeur Affies se muur van verdediging gestorm vir ’n pragdrie – reg onder die pale.

Danksy Morne se akkurate skopvoet kon die voorsprong eers na 10 – 7 in Diamantveld se guns gerek word, en toe later na 13 – 7.

Maar toe het die Pretorianers se aanslag in erns beging.

Affies se gevaarlike agterlyn het dikwels die bal wyd gespeel en ’n hele paar drieë en punte met behulp van akkurate skopwerk aangeteken.

Die besoekers se rotsvaste verdediging het ook enige pogings van die Diamantvelders om die telling gelyk te maak, vinnig in die kiem gesmoor.

Drieë deur Affies se Kyle Liebenberg, Werner Kruger en George Oosthuysen is een ná die ander deur Dieter Crafford verdoel.

Met ’n rustydtelling van 28 – 13 in Affies se guns het dit na ’n uitgemaakte saak begin lyk dat die Diamantvelders, soos baie ander spanne voor hulle, ook die knie teen Affies sou moes buig.

Knie is daar wel aan die einde van die wedstryd gebuig, maar nie voordat die Diamantvelders in die tweede helfte moedig terugbaklei het nie.

Stefan en Rudolph Steinmann kon daarin slaag om in die tweede helfte drieë te druk, met Brendan Greyling wat Stefan se drie verdoel het en Morne wat nog ’n strafskop tussen die pale deurgeklits het.

  • Die eindtelling was nou wel 52 – 25 in Affies se guns, maar getuig daarvan dat die tuisspan nie toegelaat het dat die Pretorianers sommer slaansakke van hulle maak nie.

Puntemakers:

  • Diamantveld 25 (13)

Drieë: Stefan Swart (2) en Rudolph Steinmann.

Doelskoppe: Morne Matthewson en Brendan Greyling.

Strafdoele: Morne Matthewson (2).

  • Affies

Drieë: Jacques-Lois du Toit (2), Kyle Liebenberg, Werner Kruger (2), George Oosthuysen, Dieter Crafford en Reinhardt Ludwig.

Doelskoppe: Dieter Crafford (6).

  • Die Hoërskool Diamantveld se eerste span sal later vanjaar in die Wildeklawer-skoletoernooi teen die Hoërskool Stellenberg en die Hoërskool Waterkloof te staan kom. Dié toernooi sal van 1 tot 4 Mei in Kimberley plaasvind.

Sedert 1996 het die skool al sewe

Springbokke opgelewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.