Die Hoërskool Diamantveld se o.19A-netbalspan moes in vanjaar se Wildeklawer-toernooi met ’n vierde plek tevrede wees.
Die spelers het Saterdag (04/05), op die laaste dag van die toernooi, in die uitspeelwedstryd vir derde en vierde plek teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria vasgeval. Die eindtelling was 8 – 27.
Die Diamantvelders het vanjaar in die groepfase van die toernooi teen ’n paar van die land se topnetbalspanne goed gevaar.
Dié span het die Hoërskool Stellenberg (26 – 21), Hoër Tegniese Skool Middelburg (19 – 16), Hoërskool Garsfontein (22 – 18) en die Hoërskool Menlopark (29 – 26) in die groepfase uitoorlê, en slegs teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (10 – 35) verloor.
Sodoende het die spelers na die halfeindstryd teen Paarl Gimnasium deurgedring.
Hier het die Hoërskool Diamantveld met 19 – 28 teen die meisies van Gimmies verloor, net om weer in die uitspeelwedstryd vir die derde en vierde plek teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria te staan te kom.