Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Drawwer maak plan

“Ek draf om die huis om kilo’s te kry.”

So vertel Frances Nel van Kimberley wat op 14 Maart aan die Om die dam-marathon by Hartbeespoortdam deelgeneem het en sesde in die 21,1 km-wedloop geëindig het.

Soos vir duisende ander atlete plaas die inperkingstyd ’n demper op haar oefenprogram.

“Kilo’s om die huis is nie regtig kwaliteitkilo’s nie, maar dit is beter as stilsit,” vertel sy. “ ’n Mens maak die beste van die saak.”

Nel sê haar oefenroetine wissel deur die jaar. “Die eerste ses maande van die jaar is dit voorbereiding vir die Comrades met baie langafstande om kilo’s te kry. Vanjaar het ons streng op die Comrades-afrigter Lindsay Perry se program gefokus. Ek het twee drafmaats en ons maak dit interessant en lekkerder.”

Sy het in 2014 die eerste keer aan die Om die dam-ultramarathon deelgeneem. Nel vertel dit is ’n besondere sirkelroete om Hartbeespoortdam met die bekende Saartjiesnek wat dit uitdagend maak.

Die 21,1 km-wedloop wat sy vanjaar gedoen het, is ’n uit-en-terug-wedloop waar atlete ook oor die damwal hardloop.

“Dit voel asof jy iewers by die see hardloop met al die bote op die water,” vertel sy.

Nel het in 2019 haar sesde Comrades voltooi en “mik vir daai groen nommer oor vier jaar”.

Sy het reeds drie keer die Twee Oseane-ultramarathon voltooi en ’n hele paar ander.

“Die Sani Sagger 42,2 km by die Sani-pas is vir my een van die taaiste marathons wat ek nog gedoen het.”

Sy het ook vanjaar die Kango-marathon by Oudtshoorn voltooi en haar persoonlike beste tyd van 3:32 met die 42,2 km bereik.

Nel, oorspronklik van Christiana en ’n voormalige leerling van die Hoërskool Vaalharts in Jan Kempdorp, is ’n lid van die Vodacom Kimberley Road Runners.

Sy het haar hele skoolloopbaan aan landloop deelgeneem.

“Draf is ’n passie diep in my are,” sê sy. “Dit neem ’n mens na baie verskillende en mooi plekke; ’n mens ontmoet baie nuwe mense en maak nuwe vriende.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.