Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Drie gesteweldes durf Duitsland aan

Drie uitruilstudente van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het danksy die Freun­deskreis Südafrika-uitruilprogram die geleentheid gehad om in Desember na Duitsland te reis.

Hulle het ’n paar weke lank by Duitse gesinne gewoon om te ervaar hoe die Europeërs lewe.

Chanie Burger (17), Frances van der Merwe (16) en Uli Lategan (16) is ná hul aankoms in Duitsland na verskillende dele van die land uitgeplaas.

Hulle is op 10 Januarie deur vriende en familie by die Kimberley-lughawe terugverwelkom.

  • Chanie, ’n gr. 12-leerling en die oudste van die drie, het vier weke lank by die Buch-gesin van Cux­haven, ’n kusdorpie aan Europa se Noordsee, tuisgegaan.

Chanie neem Duits as ’n agtste skoolvak en sê sy kan die taal goed verstaan en redelik basiese Duits praat.

“Die gesin by wie ek gebly het, bestaan uit die ouers, ’n 19-jarige dogter en ’n 16-jarige tweelingboetie en -sussie,” sê sy.

Die eerste twee weke het sy Cuxhaven verken en saam met die tweeling skool toe gegaan.

Die derde week het sy saam met die gesin na Stuttgart gereis, waar hulle ’n ouma en oupa van die gesin besoek het.

Chanie kon ook Nördlingen in Beiere besoek.

Sy beskryf die vierde week van haar besoek as die opwindendste. In hierdie week het sy die hawestede van Hamburg en Bremerhaven verken en saam met die Buchs Nuwejaar gevier.

Chanie sê dit was baie opwindend om elke oggend op te staan met die wete dat sy iets nuuts sou ervaar en leer.

Volgens haar het sy baie oor haarself geleer, en dat sy tot baie meer in staat is as wat sy besef het.

Sy het baie fiets gery – na die skool, supermarkte en winkel­sentrums – hoewel dit snerpend koud was.

Chanie is baie bly om terug te wees in sonnige Suid-Afrika.

“Dit is so lekker om weer terug te wees. Duitsland het ’n ervaring gebied wat ek vir niks sal verruil nie, maar jou eie mense, huis en kos bly eenvoudig die beste.”

  • Frances is na ’n gesin in die grensdorpie Kleve langs die Rhyn­rivier in die noordwestelike gedeelte van Duitsland uitgeplaas.

Die dorp is op die grens van Duitsland en Nederland en mense van daardie geweste is dikwels vlot in Nederlands en Duits.

Frances, wat Duits as skoolvak neem, het vier weke lank by die Pieper-familie tuisgegaan.

Sy het tydens haar verblyf dele van Nederland en Duitsland – insluitend Amsterdam (die hoofstad van Nederland) en Keulen (die grootste stad langs die Rhyn-rivier in Duitsland) – besoek.

Sy was ook by Nimburg en die Efteling-pretpark.

Die Pieper-familie bestaan uit die ouers, Mariet en Leo, en hul twee kinders, Frank en Eva.

Volgens Frances was een van die hoogtepunte om perd saam met Eva te ry en in ’n woud te hardloop.

Haar Duits het in dié tyd baie verbeter.

Frances sê dat sy nie baie van die Duitsers se suurkool (sauerkraut), fyngesnyde kool wat vanweë verskeie soorte melksuurbakterieë gis, gehou het nie.

Volgens Frances het sy tydens haar besoek geleer hoe om meer afhanklik te wees en vinniger aan te pas, asook om meer in haarself te glo.

Sy sê sy verlang terug na Duitsland se wintertemperature, aangesien sy meer van ’n “wintermens” is en nie so baie van Kimberley se somertemperature hou nie.

“Ek mis Duitsland, maar ek bly lief vir Suid-Afrika, want dit is waar my huis is,” sê sy.

  • Uli, ’n gr. 11-leerling, het ses weke lank by ’n gesin van Alpirsbach, ’n dorp in die Freudenstadt-distrik in die Baden-Württemberg provinsie in Suid-Duitsland gebly.

“Die dorp is in die suide van die Swartwoud aan die Kinzig-rivier geleë en is ongeveer 13 km suid van Freudenstadt, wat die naaste groot stad is. Alpirsbach het ’n inwonertal van ongeveer 6 900 mense,” sê Uli.

Die Engisch-familie, by wie hy tuisgegaan het, bestaan uit die ouers Susanne en Manfred, en hul twee seuns, Lorenz (15) en Leonie (18).

Uli, wat Duits as ’n derde taal op skool neem, sê hy kon voor sy besoek aan Duitsland redelik goed Duits lees en tekste vertaal, maar dat dit nogtans ’n uitdaging vir hom was om gesprekke in Duits te voer omdat die Duitsers dikwels vinnig praat.

“Van my ses weke in Duitsland het dit my ten minste twee weke geneem om gewoond te raak aan die Schwabiese dialek van daardie streek.

“My Duits het baie verbeter en ek het nou meer selfvertroue om Duits te praat.”

Sy gasgesin het hom na ’n sokkerwedstryd in Stuttgart geneem en ook na die Fernsehturm Stuttgart, ’n enorme telekommunikasie-toring van 216,61 m.

Dit was glo die eerste tele­kommunikasietoring in die wêreld wat uit versterkte beton gebou is en is die prototipe vir baie sulke torings wêreldwyd.

Uli vertel hoe hulle na die hoogste piek van die Swartwoud in daardie streek gereis het en asemrowende uitsigte van die Rhyn-vallei kon sien.

Hy meen die piek, wat in die Swartwoud- Nasionale Park geleë is, moet by enige natuurliefhebber se lysie van doendinge gevoeg word.

Uli was ook saam met sy gasgesin by Triberg im Schwarzwald, ’n dorp in Baden-Württemberg, wat bekend vir sy koekoek-horlosies is.

Hier het hy die bekende Haus der 1000 Uhren (Huis van ’n duisend horlosies) besoek.

Hy was ook by Triberg se waterval, een van die hoogste watervalle in Duitsland.

Uli het ook na Strasbourg in Frankryk gereis. Dit is ’n klein dorpie naby die grens tussen Frankryk en Duitsland en so 50 km van die dorp waar hy tuisgegaan het.

In Uli se laaste week daar het hy en Leonie en ’n paar vriende die pretpark Europa Park besoek.

“DieSilver Star en Blue Fire laat ’n man se hartklop behoorlik jaag en adrenalien baie vinnig deur jou liggaam pomp,” vertel hy oor dié pretritte.

Uli het ook verskeie middag­staptogte en draf-uitstappies in die Swartwoud meegemaak.

Volgens Uli het die wanpersepsies wat Duitse mense oor Suid-Afrika het, hom dikwels laat skaterlag.

“Ek is ’n paar keer gevra of ek en my African tribe saamgeloop het tot in Europa en of ek met ’n olifant skool toe gaan.

“Hulle wou ook weet of ek weet wat ’n TV, WiFi en ’n vliegtuig is,” sê hy.

“Die Duitsers het ook gereeld vir my gevra om ‘Afrika’ met hulle te praat en daar was heelwat van die Duitsers wat geglo het dat die woorde Hakuna Matata‘Afrika’ vir ‘hallo’ is.”

Soos vir Frances was Kimberley se hitte vir Uli ook iets om weer aan gewoond te raak.

“Die skielike hitte op die lughawe het my uitgeput en dit vang ’n mens nogal om in koue, nat weer met temperature onder vriespunt op die vliegtuig te klim en af te klim in die warm sonskynweer.

“Ek is wel bly om weer Afrikaans te hoor en te kan praat, en om die blou daglig en sterrehemel saans te kan sien omdat dit meestal gereën of gesneeu het daardie kant.

“Omdat dit amper altyd bewolk was, was dit moeilik om saans na die naglug op te kyk en iets gemeenskapliks te vind aan dit wat by die huis is.

“Dit het my na ’n paar dae terug by die huis getref dat dit nie saak maak waarheen ek in die wêreld reis nie; daar sal nooit ’n land of plek so mooi soos Suid-Afrika kan wees nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.