Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Duikweë word damme

Die veelbesproke duikweg in Kenilworthweg in die industriële gebied van Kimberley, waaroor selfs al voor 2017 berig is, is steeds bykans onbegaanbaar weens water wat opdam.

Boonop is die duikweg in Hullstraat sporadies, en veral die afgelope twee weke, totaal onbegaanbaar weens die watervlak.

“Kliënte kom nie by ons uit nie,” sê die eienaar van ’n onderneming in die Turnerweg- industriële gebied.

“Van hulle verdwaal op pad hierheen met die ompad en van hulle sien eenvoudig nie kans om die ompad te ry nie.

“ ’n Kliënt met ’n bakkie het dit al gewaag om deur die duikweg in Hullstraat te ry, en sy voertuig moes uit die water gesleep word,” sê hy.

’n Pomp wat gereeld gebruik word om die duikweg in Hullstraat leeg te pomp, is glo vir ongeveer twee weke reeds buite werking en ’n geentoegangbordjie is onlangs voor dié duikweg geplaas.

“Ons het al gesoebat en gesmeek om die probleem opgelos te kry,” sê ’n ander besigheidseienaar.

Veral ondernemings in dié gebied, en ook in Moghulpark, Kenilworth en Kimdustria, word geraak. Ook kliënte wat ondernemings met fabriekswinkels wil besoek, vind dit ’n geweldige frustrasie om van die besige Phakamile Mabija-straat gebruik te maak en ’n bykans 10 km-ompad via die Warrenton-pad te ry om hul aankope te doen.

Die onbegaanbaarheid van Kenilworthweg en Hullstraat weens die oorstroomde duikweë plaas verdere druk op die verkeersvloei, met meer verkeer deur woonbuurte.

Jannie van Zyl, direkteur van Noord-Kaaplandse Geestesgesondheid, waar Yonder en die Jannie Brink-skool geleë is, het voorheen vertel dat die ompad, waarvan die voertuie van die sentrum ook gebruik moet maak, geweldige druk op die brandstofuitgawe plaas.

Hy het ook gesê die verkope by die Groenmyn-kwekery het weens die onbegaanbaarheid van die pad gedaal.

Ná druk het die Sol Plaatje-munisipaliteit in Augustus verlede jaar, voor die aanvang van die eerste Yonder Hartsfees, onderneem om dringende aandag aan die duikweg in Kenilworthweg te gee.

Enkele dae voor die fees is ’n lek in die pypleiding wat vanaf die myngebied strek, herstel.

Dit het egter nie die probleem opgelos nie en daar is bevind dat die stormwaterpype in geheel verstop is weens die klippies wat gebruik word om die gebied langs die treinspore te bedek.

Lekkende water, wat vir kilometers langs die treinspoor vloei en nie van die myngebied afkomstig is nie, dreineer uiteindelik in dié duikweg.

Toe is reeds voorgestel dat die ou pyp, wat water na Kimdustria en die Kenilworth-landgoed neem, met ’n nuwe pyp vervang word. Die stormwaterdreineringstelsel moet ook skoongemaak en weer in gebruik gestel word. Dit het nie gebeur nie.

Intussen is die padoppervlak by albei duikweë aan die verbrokkel.

Johann Aucamp, verteenwoordiger van wyk 23, sê drukgroepe is gerat om die kwessie weer aan te pak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.