Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Duisende stroom na Kby

Vroeg in 2020, kort op die hakke van die fees- en vakansiedae, gaan die Diamantstad uit sy nate bars met besoekers van heinde en ver.

Die ANC vier sy 108ste verjaardag op Saterdag 11 Januarie in die Tafel Lager-stadion, met duisende be­soekers wat verwag word.

Van 17 Januarie tot 9 Februarie gaan krieketspelers van oor die wêreld heen boonop hul opwagting vir die Internasionale Krieketraad se o.19-wêreldbekerstryd maak.

Die openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Afghanistan word op 17 Januarie by die Diamant-ovaal in Kimberley gespeel.

“Omdat die toegang tot alle krieketwedstryde in die wêreldbeker gratis is, verwag ons ’n toeloop van toeskouers,” sê Eugene Jacobs, uitvoerende hoof van Noord-Kaap Krieket.

Spanne van onder meer die Wes-Indiese Eilande, Engeland en Nigerië sal ook in Kimberley speel en na alle waarskynlikheid sal uitspeelwedstryde ook in Kimberley plaasvind.

“Die wedstryde sal internasionale mediadekking kry, met die fokus op Kimberley,” sê Jacobs.

Sharon Steyn, bedryfshoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), het in ’n skrywe ’n beroep op restaurante, gastehuise, hotelle, voedselafsetpunte en ander onder­nemings gedoen om seker te maak dat hulle genoeg personeellede en voorraad vir die tydperk het.

Kommer bestaan egter of die stad in alle opsigte gereed is vir ’n toeloop van besoekers.

Benewens die onvoorspelbare watervoorsiening, is voortdurende waterlekke, hope rommel en stukkende pad­oppervlakke spreekwoordelike stok in die wiel na vooruitgang.

“As ons nie moeite doen om ten minste skoon te maak en te wys dat ons trots is op die stad nie, waarom sal moontlike beleggers en toeriste hul hierheen wil wend,” vra Steyn.

In ’n verklaring het die DA op 26 November sy kommer uitgespreek dat die Sol Plaatje-munisipaliteit daarvan wegskram om langtermyn-oplossings vir die voortslepende en sporadiese wateronderbrekings te vind en ook vir riool wat oorvloei.

Volgens die DA word die voort­durende waterverlies weens lekkende waterpype, waterbesparing en die bestuur van die vraag na water nie as ’n saak van voorkeur gesien nie. Vandalisme en kabeldiefstal dra verder tot swak watervoorsiening by.

Intussen het Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Donderdag (28/11) in Pretoria ’n meesterplan “van aksie vir die water-en-sanitasie-sektor” bekend gestel.

“Dit is belangrik dat ons ons aandag op die waterbronne en die instandhouding van bestaande infrastruktuur fokus, waterbronne beskerm en mense opvoed om beter om te sien na waterbronne en om reënwater op te vang.”

Sisulu sê as Suid-Afrika beleggings wil trek, moet hy seker maak sy waterinfrastruktuur is op peil.

Patricia de Lille, minister van openbare werke, wie se departement vir die instandhouding van infrastruktuur verantwoordelik is, het gesê mense moenie eers begin om water te spaar wanneer ’n droogte reeds heers nie.

“Ons houding jeens water moet verander,” het sy gesê.

  • Noordkaap ontvang daagliks oproepe en besoeke van ontstoke inwoners wat oor die onvoorspelbare watertoevoer kla. Een inwoner, wat verlede week die Noordkaap-kantoor besoek het, vertel dat hy op dié dag 13 dae gelede ’n erge waterlek aangemeld het, maar dat tot op hede niks daaraan gedoen is nie.

’n Ander inwoner kla oor “onbevoegde mense wat net iets doen om oortydbetaling te kry.”

Nog ’n inwoner, wat die kantoor twee weke gelede besoek het, het Maandag (02/12) ’n video gestuur van die waterlek wat steeds nie voor sy huis reggemaak is nie, ongeag daarvan dat hy dit aangemeld het én ’n verwysingsnommer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.