Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Elke voetspoor bring hoop

Om hoop te bring en spore te los waarin ander wil volg, is die hoofdoel van Voetspore van Hoop.

Anri Holder van Voetspore vertel hulle wil die gemeenskap van Griekwastad bystaan en bemagtig met kennis en vaardighede om bo die uitdagende sosio-ekonomiese omstandighede uit te styg, met evangelisasie deurlopend as kern.

Dié nie-winsgewende maatskappy van Noord-Kaap Evangelisasie in Griekwastad is in 2017 gestig en het in April 2018 oopgemaak.

“In Voetspore se programme betrek ons voorskoolse kinders, die jeug én volwassenes,” vertel Holder.

Sy sê die vroeëkinderontwikkeling- (VKO) sentrum was die eerste program waarmee begin is.

“Wanneer kinders van drie tot vyf jaar oud die regte stimulasie en ontwikkelingsgeleenthede ontvang, kan dit bepalend vir die sukses van hul skoolloopbaan en toekoms wees. Hierdie ouderdom is ’n venster van geleenthede wat ons met albei hande aangryp,” sê sy.

Die jeug word veral in vakansieprogramme met sport- en ontspanningsaktiwiteite betrek.

“Voetspore bied jaarliks ’n Draadkar Grand Prix deur die strate van Griekwastad aan,” sê Holder. “Hier word elke deelnemer soos ’n kampioen behandel.”

Die Grand Prix sou in Junie plaasvind, maar weens die Covid-19-pandemie moes dit kanselleer word.

In die groente- en hoenderproduksieprogram word op volwassenes gefokus. By die sentrum se demonstrasie- en opleidingstuine, asook by die hoenderhokke, word volwassenes touwys gemaak en kry hulle hulp met die bou van hoenderhokke by hul huise.

“Die program leer gesinne om voedsel in hul eie erwe te produseer. Dit verseker ook dat gesinne ’n meer gebalanseerde en gesonde eetplan volg,” sê Holder. “Vars produkte in Griekwastad is baie duur en nou kan hulle hul eie groente, eiers en hoendervleis produseer.” Volwasse vroue is by die naaldwerkprogram betrokke.

“Die vroue verdien ’n inkomste en dit bemagtig hulle met entrepreneursvaardighede. ’n Verskeidenheid gehalte naaldwerkprodukte kan by Voetspore gekoop en bestel word.

“Handsakke, kussingslope, sakke vir skootrekenaars, sleutelhouers, pennesakkies, plekmatjies, vatlappe en lapmaskers is enkele van die produkte,” vertel Holder.

Die inperking het veroorsaak dat die VKO-sentrum moes sluit, en die kinders se ontwikkeling en stimulasie ly daaronder.

“Ons is bekommerd dat hulle nie nou die sentrum se gebalanseerde etes kan kry nie. Boonop is die sentrum ’n veilige omgewing en ons is bekommerd dat hulle nie nou toegang tot hierdie veilige spasie het nie,” sê Holder.

Die vroue wat naaldwerk doen, werk tans van die huis af en kan op so ’n manier steeds in die groot aanvraag van lapmaskers voorsien.

In normale tye is daar ongeveer 60 kinders van drie tot vyf jaar oud in die VKO-sentrum, ongeveer 500 skoolgaande kinders is by Voetspore se programme betrokke en ongeveer 340 volwassenes.

Vir Holder is die grootste frustrasie dat die nood groter is as wat hulle tans kan aanspreek.

“Die sosio-ekonomiese probleme van armoede en werkloosheid is massief en ’n mens wens vir genoeg hande en rande om al die nood elke dag om ons te verlig.

“Ons bly op ons knieë en glo dat uitkoms sal kom. Ons droom van ’n naskoolsentrum vir ’n veilige leerspasie en om die leerlinge wat in die VKO-sentrum was, ondersteuning en leiding te bied.”

Voetspore van Hoop maak ’n verskil, soos wat Holder vertel:

  • “ ’n Ondervoede, verwarde, bang en onmoontlik besige seuntjie kom by die VKO-sentrum aan vir sy eerste dag van skool. Hy ontwrig die klas die hele dag lank. Ná maande se baie aandag, liefde, ons twee ‘oumas’ in die kombuis se lekker kos en sy juffrou se toewyding en passie, verander hy in ’n uitblinker. Die gesiggie vol woede en frustrasie straal van vreugde.
  • “Telkens kom kinders by ons aan wat nie weet wat speelklei is of hoe om ’n vetkryt vas te hou nie. Om ’n paar maande later die kleifiguurtjies en mini-kunswerke te sien wat hulle maak, is verrykend!”
  • “Om die uitdrukking op ’n vrou, wat nog nooit voorheen met ’n naaimasjien gewerk het nie, se gesig te sien wanneer sy klaar met haar eerste laslappiekussingsloop is . . . En die vreugde wanneer dit verkoop en sy vir haar handewerk betaal word. Skielik het sy hoop.”) “Die vreugde wanneer ’n vrou haar hoenderhok met nuwe kuikens én groentetuin wys . . . die verligting in haar stem wanneer sy vertel hoe sy al jare sukkel omdat sy nog nooit ’n ordentlike hoenderhok kon bekostig nie . . . ”
Van die deelnemers aan die Draadkar Grand Prix in Griekwastad, ’n projek van Voetspore van Hoop. Foto’s: Voetspore van Hoop
Ongeveer 90% van die groente wat Voetspore van Hoop vir etes gebruik, kom uit hul eie groentetuin.
Van die vroue in Voetspore van Hoop se naaldwerkprojek, besig met laslappiewerk (voor die inperking).Foto: Voetspore van Hoop
Weens die inperking moes Voetspore van Hoop se vroue naaldwerk van die huis af begin doen.
Lapmaskers is enkele van die produkte wat Voetspore van Hoop op bestelling maak.
Handsakke is enkele van die naaldwerkprodukte wat deur die vroue by Voetspore van Hoop gemaak word. Foto: Voetspore van Hoop
Van die kleuters by Voetspore van Hoop se vroeëkinderontwikkelingsentrum met huisies van koek wat hulle gemaak het. Foto: Voetspore van Hoop
Konsert word ook by Voetspore van Hoop se vroeëkinderontwikkelingsentrum gehou.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Kontak Noordkaap Kontak ons
    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.