Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fikses versit berge

Sewe superfikses van Kimberley en die Modderrivier-Jacobsdal-omgewing het op Saterdag 16 November die uitdagende Skyrun-bergwedloop in die Witteberge naby Lady Grey en Rhodes in die Oos-Kaap aangedurf.

Mynhardt en Riana van der Merwe het die 100 km-bergwedloop vir die 12de keer kafgedraf.

Pieter Uys, Matthys Uys, André Oberholzer, Charl Weideman en Jaco Weideman het die 65 km-berg­wedloop aangepak. Dit was die tweede keer dat die Weidemans dit gedoen het.

Deelnemers het om 04:00 in die donker weggespring en ’n afsnytyd is aan elke wedloop gekoppel.

Dit is ’n self-rigtingbepalende en self­versorgende roete, met meestal geen paadjies en heelwat tegniese klouterwerk.

Elke atleet is vir sy kos, water, geskikte kleredrag en verpligte toerusting verantwoordelik.

“Alle weersomstandighede is moontlik. Ons het oor die jare intense hitte en bittere koue beleef. Uiterste temperature, van -5 °C tot warmer as 40 °C, is moontlik,” sê Riana.

“In 2013 is die wedloop ná 65 km gestop weens die ergste storm nog en verdwaalde atlete en atlete met hipotermie. Digte mis maak dit soms baie moeilik om die roete te vind. Sneeuval is ook moontlik.”

Volgens haar bly dit ’n uitdaging om in sulke omstandighede na jouself om te sien en gereeld te eet en te drink. Die hoogte bo seespieël veroorsaak dat ’n mens jou eetlus verloor en die energiedrankies laat ’n mens naar voel.

Matthys vertel dat ’n gedeelte van die berg gebrand het en waterstroompies skaars is, met bees­paadjies hier en daar om op te draf.

Vir Mynhardt en Riana is dit ’n mikpunt om nié die son op die Sondagoggend te sien opkom terwyl hulle nog met die roete besig is nie.

“Hierdie jaar het die droom waar geword en het ons ons beste tyd (25 uur en 2 minute) van sewe jaar gelede met 19 minute verbeter en dit in 24 uur en 53 minute voltooi,” vertel Riana.

Sy was die vrouewenner in die meestersklas en Mynhardt was die vyfde man in die meestersklas. Hulle het 78ste en 79ste van nagenoeg 300 atlete geëindig.

Matthys sê dat fiksheid op so ’n roete selfvertroue gee en jou sielkundig sterker maak. Dat ’n deelnemer en sy gesinslede in die maande voor die wedloop soveel opofferings maak, dien ook as motivering om aan te hou.

Riana sê dat sy en Mynhardt telkens aan hulself belowe dat dit die laaste keer is dat hulle sal deelneem.

“Maar die ondervinding en natuurskoon is verslawend. En vanjaar was my prysgeld ’n gratis inskrywing vir 2020 . . . die versoeking is groot,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.