Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Focus ST byna gereed

Ford het skaars in April sy nuwe vierdegeslag-Focus aan die wêreld gewys of hy is reeds besig om die warm ST-weergawe markgereed te kry.

Die nuwe ST is vroeër die maand op die Nürburgring gesien waar hy besig was met finale dinamiese toetswerk. Die Blou Ovaal wou aanvanklik sy nuwe ST reeds einde vanjaar bekend stel, maar ontwikkelingswerk het stadiger gevorder as wat beplan is.

Die nuwe datum is nou vroeg volgende jaar – dalk op die Geneefse motorskou in Maart, of selfs vroeër.

In die Focus-gesin staan die RS heel bo-aan die leer, gevolg deur die ST en daarna die res van die gewone gesinsmodelle.

Die nuwe ST sal na verwagting die ou RS se warm 2.3-liter-turbo kry, maar in ’n makker weergawe.

Die RS se enjin het 257 kW gelewer, maar kon glo nog warmer gestel word om selfs 275 kW te lewer sonder om die enjin skade aan te doen.

Vir die nuwe ST wil Ford egter die enjin makker maak. Enersyds is die ST voorwielgedrewe, wat vir gemaklike hantering vereis dat nie te veel krag na die voorwiele gekanaliseer word nie.

Maar dan wil Ford ook bloot net naby aan sy ou weergawe (2.0-liter-turbo, 188 kW) en dié van sy mededingers (Renault Megane RS, 205 kW; Peugeot 308 GTi, 198 kW) se kragsyfers bly.

Ford se middelslag-enjin in die EcoBoost-familie, die 1.5-liter met turbo-aanjaging, sou ook glo gebruik kon word vir die nuwe ST, maar dan sou die enjin uiters hard moes werk om daardie verlangde kragsyfers te produseer, wat weer die rakleeftyd van die enjin in die gedrang kon bring.

Daarom dan die fris 2.3-liter-enjin, maar in ’n baie mak gewaad vir die ST. Daar sal ook net ’n sesgang-handratkas te kry wees.

Wat ’n mens van die toetsmuil kan aflei, is dat Ford nie te veel aan die voorkoms wil torring nie. Die ST sal slegs dieper buffers voor en agter ontvang, groter wiele en ’n drukvin, saam met kentekens en ’n sportiewe kleurpakket.

Binne sal jy sportsitplekke, ’n ritmodus-beheerknop en ’n raakskerm op die instrumentpaneel kan verwag wat jou bestuurshulpmiddels en nutsfunksies sal huisves.

Die nuwe Focus is amper 90 kg ligter as sy voorganger, en die bakwerk is ook 20% stewiger gemaak vir minder bakwring as jy skuins oor ’n spoedwal ry. Dit alles sal help dat die nuwe enjin-en-bakwerk-kombinasie heelwat lewendiger verrigting en ’n dinamieser rit sal verskaf.

Wat die volgende RS betref, bly die planne om hom teen 2020 markgereed te hê. Die jongste aanduidings is dat die RS dié keer ’n kleiner 2.0-liter-turbo sal ontvang, maar gekoppel aan ’n hibridiese stelsel met ’n 48 V- elektriese stelsel om ekstra krag onder harde versnelling te verskaf. Die mikpunt wat aan Ford-ingenieurs gestel is, is glo om 300 kW te haal, wat die mededingers in die skadu sal stel.

Die nuwe ST sal die laaste verrigtingsmodel uit die Ford-stal wees wat met net ’n binnebrandenjin toegerus gaan wees.

Voortaan wil Ford glo net hibridiese stelsels inspan, beginnende met die volgende RS.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.