As jong seun het hy sy nuwe werksplek binnegestap.
Netjies, skoon, opgewonde, uitgedaag. Sy doel was om die beste daarvan te maak.
Om homself te bewys, ja, om te doen wat hy moet doen, maar boweal om ’n verskil te maak. ’n Roeping te leef.
Sy werkgewer, ’n goeie vriend van my, het my van die seun se kostelike groei vertel.
Ná goeie vordering met die verloop van ’n paar maande, het hy hom gevra: “Seun, jy het jouself bewys, jy het ons almal beïndruk, definitief jouself ook. Ek is nuuskierig – hoekom bied jy jouself elke keer aan, hoekom doen jy meer as wat van jou verwag word, hoekom al hierdie werkywer?”
Die werkgewer sê die seun se mooi antwoord het hom laat nadink.
“Ag, oom, ek is mos maar ’n fool vir verantwoordelikheid. Ek kan dit net nie help nie. As iets moet gebeur en ek kan help, dan moet ek, of dit deel is van my werk of nie.”
Die gesindheid wat hierdie antwoord weerspieël, is nie iets wat ’n mens sommer net vir iemand aanleer nie. Dit is deel van jou hart. Om met al jou krag en ywer te werk, of dit nie te doen nie.
Jy is ’n “fool” vir verantwoordelikheid of jy gee nie om nie.
Wat duidelik is – as jy ’n positiewe verskil wil maak, as jy meer as die gewone wil doen, as jy die ekstra tree wil gee – wees ’n “fool” vir verantwoordelikheid. Dit is raadsaam.
Selfs as niemand anders verantwoordelik wil wees nie, wees jy dan.